Skuld, grondpaaie, vullis en korrupsie: die storie van Ditsobotla-munisipaliteit in Noord-Wes

Provinsiale amptenare het tot onlangs nog tevergeefs gespartel om Clover te oortuig om nie sy produksieaanleg in Lichtenburg (binne die Ditsobotla munisipale area) toe te maak en elders te skuif nie. Vir Clover is groot verliese as gevolg van jarelange onderbrekings van water en elektrisiteit, sowel as ontelbare slaggate, egter nie meer ‘n lewensvatbare opsie nie. Vele ander besighede in die Ditsobotla munisipale area oorweeg dit ook om te skuif, en ‘n uittog van besighede sal daar geweldig nadelige maatskaplike- en ekonomiese implikasies hê.

Die geheel-verval van die Ditsobotla-munisipaliteit in Noord-Wes blyk dadelik uit die afwesigheid van ‘n boekhoudingstelsel, en ‘n informele diensbaarheidsvoorsieningsketting wat nie onderhou word nie. Een van die simptome hiervan is dat die gemeenskap nou self verantwoordelikheid vir noodsaaklike dienste soos vullisverwydering moet neem, maar steeds die munisipaliteit se oorbodige lone-rekening befonds met gelde vir dienslewering.

Ter illustrasie van die administratiewe verval van die Ditsobotla-munisipaliteit is dit merkbaar dat toe Sakeliga vroeër vanjaar ‘n eenvoudige versoek vir toegang tot inligting aan dié munisipaliteit kragtens die PAIA-wet gerig het, kon die munisipaliteit nie daarin slaag om eers op die versoek te antwoord nie. Selfs ná ‘n hofbevel in Sakeliga se guns, bly die munisipaliteit steeds in gebreke om daardie eenvoudige inligting te oorhandig. Sakeliga moes nou die balju instruksie gegee om op roerende bates van die munisipaliteit beslag te lê omdat die munisipaliteit versuim om getakseerde koste teen die munisipaliteit in laasgenoemde hofsaak aan Sakeliga oor te betaal.

Dit is alles tekenend van onherstelbare verval.

Toe Sakeliga vanjaar sy betaalmeester-hofaansoek, onder andere ten opsigte van Ditsobotla gebring het, het Ditsobotla vir Eskom meer as R600-miljoen geskuld. Dít, te midde van honderde miljoene rande wat elke jaar daar afgeskryf word weens vermorste, onreëlmatige en korrupte transaksies.

Raadslede wat beswaar maak oor korrupsie by dié munisipaliteit wat amper summier daarna afgemaai word in die strate, is tekenend van die onbeteuelbaar aard van korrupsie en kriminaliteit in Ditsobotla. Nou beweer die provinsiale regering, in reaksie op Sakeliga se betaalmeester-saak, dat hulle van plan is om in te gryp in hierdie munisipaliteit – nadat hulle vir meer as ‘n dekade bewus was van toenemende verval en versuim het om in te gryp.

Sakeliga meen dat die provinsiale regering van Noord-Wes, sowel as die Nasionale Tesourie, nou al meer as genoeg tyd gehad het om daadwerklik by Ditsobotla en ander munisipaliteite in te gryp, maar vir politieke redes gekies het om dit nie te doen nie of nie daarin kon slaag nie.

Al wat nou oorbly om buitengewone verval en korrupsie te takel, is buitengewone ingrypings. Om hierdie rede nader Sakeliga nou die Hooggeregshof in Mafikeng met ‘n buitengewone aansoek om ‘n spesiale betaalmeester aan te wys om die geldsake van Ditsobotla-munisipaliteit te bestuur in sover dit kritieke dienslewering betref. Die doel hier is nie om met die geldsake of begroting van die verkose raadslede in te meng nie, maar om toe te sien dat die gelde wat diensverskaffers soos Eskom toekom, wel aan hulle oorbetaal word. Munisipaliteite het immers nie ‘n arbitrêre diskresie om nie betalende eindgebruikers se heffings en ander fooie vir dienslewering, aan dienslewerende verskaffers oor te betaal nie.

Die betaalmeester-saak sal nie vervalle munisipaliteite soos Ditsobotla in die langtermyn red nie. Dit is egter ‘n belangrike stap om tydelik orde in munisipaliteite soos Ditsobotla te herstel, sodat besighede en sakekamers daar weer hoofsaaklik op waarde-skepping eerder as diensleweringsprobleme kan fokus.

Archives