Sedibeng Water trek instruksie oor afsny van water in Noordwes terug

pexels-steve-johnson-861414

Sedibeng Water het hierdie naweek teenoor die sakegroep Sakeliga onderneem om op Maandag, 31 Mei 2021, hul instruksie oor wateronderbrekings in Noordwes terug te trek. Hulle het Sakeliga versoek om nie met dringende litigasie in die Hooggeregshof in Mahikeng voort te gaan nie.

Die terugtrek van die instruksie beteken dat grootmaatwatervoorsiening in dorpe soos Mahikeng, Lichtenburg en andere vir eers weer gehandhaaf sal word. “Die handhawing van grootmaatwatervoorsiening was noodsaaklik om verdere skade aan die plaaslike ekonomie en gemeenskappe te voorkom,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Sedibeng Water het verlede week ‘n instruksie aan sy werknemers in verskeie munisipaliteite in Noordwes gegee, dat watervoorsiening en onderhoudsdienste deur Sedibeng Water so vroeg as 1 Junie gestaak moet word. Die onderbrekings sou die hele Ngaka Modiri Molema-distrikmunisipaliteit, sowel as die Mahikeng, Ditsobotla en Ratlou Plaaslike Munisipaliteite raak. Dit betrek dorpe soos Mahikeng, Lichtenburg, Delareyville, Ottosdal en Zeerust.

Le Roux sê dit is duidelik dat die dreigende litigasie deurslaggewend was om die watervoorsiening in stand te hou. “In die lig van die onderneming het Sakeliga sy regspan instruksie gegee om die saak van die rol te verwyder en regskoste te reserveer. Sou Sedibeng Water strydig met die onderneming optree, kan hulle streng optrede deur Sakeliga verwag.”

Klik hier vir die hofstukke wat verlede week op Sedibeng Water beteken is.

Ander saak gaan voort

Sakeliga gaan intussen voort om sy ander, oplossingsgerigte litigasie van stapel te stuur. In daardie litigasie vra Sakeliga die hof om ‘n spesiale meester in twee munisipaliteite in Noordwes aan te stel, wat verantwoordelik sal wees om geld vir elektrisiteits- en waterdienste te ontvang en oor te betaal. Stukke hiervoor word tans op partye, insluitende die minister van finansies, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die premier van die Noordwes-provinsie en Ditsobotla-munisipaliteit (Lichtenburg) en Naledi-munisipaliteit (Vryburg) beteken.

Kyk verdere verklarings later vandeesweek vir meer inligting oor die nuwe hofsaak.

Archives