Sakelui op Parys stig digitaal-versnelde sakekamer, in affiliasie met Sakeliga

pexels-dio-hasbi-saniskoro-3280130

Sakelui in Parys en Sakeliga het gister ‘n nuwe, digitaal-versnelde sakekamer, die Parys Sakeliga, gestig. Die Parys Sakeliga is ‘n onafhanklike organisasie wat homself vir ‘n gunstige sakeomgewing in Parys beywer, in affilliasie en met die ondersteuning van Sakeliga. 

Die Parys Sakeliga is die eerste instelling van sy soort. Terwyl verskeie bestaande sakekamers reeds by Sakeliga geaffilieer het of tans besig is, is die Parys Sakeliga die eerste sakekamer wat vanuit die staanspoor as ‘n plaaslike, selfstandige sakeliga van sy eie met Sakeliga affilieer. Dit is ook die eerste sakekamer wat volledig op Sakeliga se digitale platform vir sakelui, ondernemings en sakekamers, Sakeplein (www.sakeplein.com), bedryf sal word. Sakeplein maak dit makliker as ooit tevore om ‘n sakekamer op te rig, bestuur en finansier. 

Die samewerking vorm deel van Sakeliga se strategie om ‘n landswye netwerk van selfstandige sakegemeenskappe in onafhanklike sakekamers te skep en ondersteun, ten einde plaaslike sakeomgewings weer gunstig te maak. 

Die stigtingsvergadering is deur byna 200 sakelui en gemeenskapslede bygewoon, wat in die afgelope tyd ‘n skerp verswakking in hul sakeomgewing ervaar het. Dit sluit in elektrisiteitsonderbrekings, diensleweringsverval in die sakekern, swak munisipale rekeningadministrasie en skadelike beleidsbesluite.  

“Ons doel is om ‘n gunstige sakeomgewing te skep waarin sakelui in Parys welvaart kan skep tot voordeel van die hele gemeenskap. Indien ons die sakegemeenskap se hart weer sterk kan laat klop, kry die hele dorp weer lewe,” sê Suleen Peens, die voorsitter van die Parys Sakeliga en die eienaar van ‘n Biokinetika-praktyk op die dorp. 

Die plaaslike sakeliga is ‘n selfstandige organisasie sonder winsoogmerk, met sy eie bestuur, ledebasis en finansies. Die affiliasie met Sakeliga beteken dat die inisiatief die voordeel van ondersteuning vanaf Sakeliga geniet, insluitende die benutting van ‘n handelsmerk, hulp met regstrategie, operasionele stelsels, en die voordele van ‘n netwerk van kennis oor beste praktyke vir sakekamers.  

Bernard Nel, plaaslike inwoner en sakeman, het ook uitgebrei oor die Parys Sakeliga se strategiese plan vir parys in die vorm van die #MyParys-veldtog: “Dit is ons dorp en as sakelui wil ons ‘n verskil maak. Dit is tyd dat elkeen van ons sê dit is #MyParys. Ons het met Sakeliga geaffilieer sodat ons kan hande vat met ander sakekamers, bestaande kundigheid kan benut, en dit makliker kan maak om ‘n sakekamer op te rig en suksesvol te maak.” 

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof, is Sakeliga se strategie alles gerig op die skep van gunstige sakeomgewings. “Alles wat ons doen moet bydra tot gunstige sakeomgewings. Sakeliga self fokus op oorhoofse en nasionale sakekwessies, maar dit is nie genoeg nie. Sakeomgewings moet ook op plaaslike vlak weer gunstig gemaak word. Ons strategie daarvoor is om hande te vat met en ondersteuning te bied aan sakelui wat sakekamers het of wil stig – om dit vir hulle makliker te maak om dit op te rig, te bestuur, en suksesvolle projekte te dryf. Ons werk dus aan ‘n skaalbare bloudruk vir selfstandige sakegemeenskappe.”  

Le Roux het tydens die loodsing gesê: “Of sakeomgewings op plaaslike vlak in Suid-Afrika gunstig gaan wees hang af van wat sakelui self daaraan doen. Die antwoord op staatsverval en skadelike beleid is om alternatiewe te skep en bedingingsmag op te bou, om die sakeomgewing te hervorm. As ons dit as sakelui doen, dan bevoordeel ons nie net ons besighede nie, maar almal met wie ons besigheid doen – en dit is, per slot van sake, in die openbare belang.” 

Ernst Vorster, hoof van plaaslike sakeligas en affiliasies vir Sakeliga, het beklemtoon dat Parysenaars, self verantwoordelikheid vir die dorp wil en moet neem: “Sakeliga kan selfstandige sakegemeenskappe help met kennis, struktuur en strategie na gelang van hul eie behoeftes. Die sakegemeenskap van Parys het self hierdie inisiatief aan die dag gelê en die sakelui se opkoms en energie is indrukwekkend.” 

Aansluitings by die Parys Sakekamer kan maklik aanlyn geskied, by www.sakeplein.com

Archives