Sakeliga wen hofsaak: SEB en ander voorvereistes in openbare verkryging ongeldig; Gordhan tree ultra vires op

pexels-sora-shimazaki-5669619-1-scaled (1)

Dit is ongeldig en ongrondwetlik vir staatsorgane om vooraf-diskwalifikasiekriteria, soos swart ekonomiese bemagtigingsvereistes, by tenders in openbare verkryging toe te pas. 

Die Hoogste Hof van Appèl het vandag met kostes in die guns van die sakegroep Sakeliga bevind. Die hof het bevind dat die Voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 teenstrydig is met die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid, 5 van 2000 en die Grondwet en dit gevolglik ongeldig verklaar. Die hof het ook bevind dat die minister van finansies wat dit destyds gepromulgeer het,  Pravin Gordhan, ultra vires opgetree het, deur te reguleer asof hy wetgewende magte het. 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga sê die uitspraak is van groot belang: “Die Voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 het staatsorgane toegelaat om tenders by voorbaat te diskwalifiseer, net omdat ‘n maatskappy byvoorbeeld nie 51% in swart besit was nie. Die hof het nou hierdie vooraf-diskwalifikasie as ongeldig en ongrondwetlik verwerp. Dit is ‘n belangrike stap in die regte rigting, naamlik om tenders te beoordeel op grond van besigheid en die waarde wat dit vir die publiek bied, in plaas van ras en ander politieke oorwegings.” 

Die probleem met die gewraakte regulasies was dat dit ‘n oënskynlik klein, maar buitengewoon skadelike uitbreiding van BEE-wetgewing daargestel het. Sedert 2017 het dit aan staatsorgane ’n nuwe bevoegdheid geskenk, naamlik om hul eie diskresionêre en arbitrêre minimum vereistes – in besonder SEB-vereistes – te stel waaraan ’n kontrakteur moet voldoen as hy enigsins net oorweeg wil word vir sake met ’n staatsentiteit. Voor hierdie regulasies kon staatsorgane wel SEB in ag neem, maar mag hulle dit slegs vir ‘n deel (ongeveer tussen 10% en 20%) van die totale punte, op basis waarvan tenders toegeken is, toegepas het. 

“Ironies genoeg,” sê Piet  le  Roux, uitvoerende hoof van  Sakeliga, “is dit nou die geval dat minister  Pravin  Gordhan, wat hierdie regulasies in 2017 geïmplementeer het, as Minister van Openbare Ondernemings weer die vrugte daarvan pluk. Ingevolge sy regulasies het  staatsentiteite  die afgelope jare dikwels voornemende kontrakteurs by voorbaat gediskwalifiseer as hulle nie 51% in swart besit is nie. Met ander woorde, hulle is  vanuit die staanspoor  gediskwalifiseer selfs sonder dat hul prys- en  waardeproposisie  oorweeg is.”   

Die bevinding dat die regulasies onwettig is, is vir 12 maande opgeskort, om die huidige minister van finansies, Tito Mboweni, tyd te gee om dit reg te stel.  

“Ons wys staatsorgane egter intussen op die duidelike bevinding teen vooraf-diskwalifikasie op grond van SEB- en soortgelyke kriteria,” sê Le Roux. “Die aangewese en moreel korrekte stap vir alle staatsorgane sal wees om, tot tyd-en-wyl die minister nuwe regulasies gepromulgeer, af te sien van vooraf-vereistes.” 

Sakeliga spreek sy dank uit vir die waardevolle bydraes gelewer in die saak deur South African Property Owners Association (SAPOA), wat as amicus curiae tot die saak toegetree het.  

Archives