Sakeliga waarsku teen staatsmediasie ná twee pogings

1920px-Chambre_du_mediateur1

Die sakegroep Sakeliga het vandag gewaarsku teen staatsgereguleerde mediasieprosesse by dringende sake met betrekking tot Covid19-regulasies.

Na ‘n onbeantwoorde mediasieversoek op 2 Mei en verdere regulatoriese vergrype op 12 Mei 2020 het Sakeliga ‘n dringende aansoek teen die staat op 15 Mei gebring. Sakeliga versoek die hof om verskeie besigheidslisensiëringsvereistes, ingevolge waarvan sakelui gedwing word om vooraf-goedkeuring vir besigheid by die staat te bekom, tersyde te stel.

Mediasie

Die 2 Mei-mediasieversoek was gerig ingevolge Regulasie 13 van die Ramptoestandregulasies soos op 30 April gepubliseer. Ontvangs van hierdie versoek is deur ‘n aantal staatsamptenare erken, maar andersins geïgnoreer.

Sakeliga het derhalwe met litigasie begin en op 15 Mei dringende hofstukke op die president, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake en verskeie ander, insluitende die nasionale coronavirus bevelsraad (NCCC), beteken.

Die betekening van stukke het klaarblyklik optrede aangespoor. Laat op Maandag 18 Mei het die staatsprokureur Sakeliga gevra of dit steeds tot mediasie bereid is. Sakeliga het op 19 Mei aangedui dat dit sou instem, op voorwaarde dat die mediasie teen 22 Mei van stapel gestuur en afgehandel moet wees en dat dit sonder benadeling van regte geskied. Sakeliga het ook gewaarsku dat die hofsaak vir 26 Mei geplaas is en dat die respondente se opponerende eedsverklarings steeds uitstaande is, asook gewaarsku dat dit nie laat indiening kondoneer nie.

Terugvoering deur die prokureurgeneraal

Op 22 Mei, twintig dae na die aanvanklike versoek vir mediasie, het Sakeliga uiteindelik van die prokureurgeneraal verneem. Verbasend genoeg het sy kantoor nie verskoning vir die vertraagde reaksie aangeteken nie, maar Sakeliga daarvan beskuldig dat dit skokkend onredelike (“unconscionable”) voorwaardes stel en poog om bloot die boksies te merk (“merely tick-the-boxes”).

Sakeliga teken beswaar aan teen hierdie aantygings en teen die partydige optrede uit die kantoor van die prokureurgeneraal.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die prokureurgeneraal blyk nie in staat daartoe te wees om ‘n regeringsgefasiliteerde mediasieproses onpartydig te behartig, soos wat afgelei moet word uit Regulasie 13, nie: “Dit is onaanvaarbaar dat ‘n fasiliteerder ‘n party tot ‘n dispuut word. Ons lei af dat die prokureurgeneraal ‘n nadelige en onbehoorlike beskouing van ons optrede sowel as die dringendheid van die saak neem.”

Omsigtigheid by staatsgedrewe mediasie nodig

“Ek beskou dit as in die openbare belang om die tekortkominge van staatsgedrewe mediasie uit te wys,” vervolg Le Roux. “Partye wat hierdie mediasie onderneem loop die risiko van ’n partydige fasiliteerder en die staat se vertraging van die saak, te midde van ononderbroke en wesenlike skade as gevolg van arbitrêre en onregmatige grendelregulasies. In ons ervaring tot dusvêr is staatsgedrewe mediasie ’n nuttelose oefening. Of dit nou is vanweë ’n gebrek aan dringendheid, kapasiteit, of andersins vind ons dat die staat nie toegerus is om effektief te reageer op dringende openbare geskille nie.”

“By oorweging van alternatiewe geskilbeslegting eerder as litigasie, sou partye beter gediend wees om vanuit die staanspoor onpartydige fasiliteerders te nader.”

“Aan alle partye wat poog om arbitrêre en onregmatige grendelregulasies uit die weg te ruim, of dit nou is deur alternatiewe geskilbeslegting of litigasie, spreek ek graag waardering en beste wense uit.”

State laat met antwoordende verklarings

Die respondent is tans steeds in gebreke om antwoordende verklarings te lewer, nieteenstaande die feit dat hulle nou reeds erg laat daarmee is. Vir Sakeliga se stukke soos op 15 Mei op die partye beteken, klik hier.

Sakeliga gaan voort met die saak, wat vir Dinsdag 26 Mei op die rol in die Hoë Hof in Pretoria geplaas is.

Argiewe