Sakeliga verwelkom nuwe staande instruksie oor vervalde vuurwapenlisensies

pexels-karolina-grabowska-5202395

Sakeliga verwelkom die nuwe staande instruksie aan die Suid-Afrikaans Polisiediens (SAPD) oor hoe vuurwapens, waarvan die lisensies verval het, hanteer moet word. Ingevolge die instruksie hoef sulke wapens nie meer vernietig te word nie, moet nuwe lisensie-aansoeke daarvoor aanvaar word, en moet eienaars van sulke wapens nie meer vervolg word as hulle vir nuwe lisensies aansoek wil doen nie.

Die instruksie herstel prakties die eiendomsreg van vuurwapeneienaars, wat voorheen onderwerp was aan die vernietiging van hul eiendom bloot op grond van administratiewe besluite. Die uitspraak vloei voort uit die onlangse grondwethofsaak waarin Fidelity Sekuriteitsdienste suksesvol was en waarin Sakeliga as amicus curiae (vriend van die hof) opgetree het met fokus spesifiek op eiendomsreg.

Ingevolge die nuwe instruksie behoort die SAPD ook nie vuurwapeneienaars te vervolg vir vervalde vuurwapenlisensies indien die eienaars die vervalling met ‘n nuwe aansoek wil regstel nie. Aangewese Vuurwapenbeamptes (Designated Firearm Officers, of DFOs) word aangesê om nuwe lisensieaansoeke vir sulke vuurwapens te aanvaar. Ook vuurwapens met vervalde lisensies wat deel van boedels is hoef voortaan nie meer vernietig te word nie, maar kom vir nuwe lisensies in aanmerking.

Indien bostaande instruksie, wat gegrond is op ‘n redelike begrip van die wet, vanuit die staanspoor deur die SAPD toegepas was, sou miljoene rande se regskoste, sowel as nog honderde miljoene meer se administratiewe koste en ekonomiese skade die afgelope paar jaar gespaar gewees het. Dit is nietemin welkom dat die SAPD hierdie instruksie nou uiteindelik uitgevaardig het.

Sakeliga spreek sy lof uit vir Fidelity, wat hierdie saak aanvanklik aanhangig gemaak het en deur verskeie hofrondtes vasgebyt het. Ons is bly om as amicus curiae ‘n bydrae te kon lewer, spesifiek ten opsigte van die eiendomsregtelike en ekonomiese aspekte, ter ondersteuning van Fidelity se saak en die wydste moontlike toepassing daarvan. Die deelname van etlike ander amici getuig van die belang van die saak en die mate waartoe samewerking in die privaatsektor en burgerlike samelewing skadelike regeringsbeleid kan omkeer.

Archives