Sakeliga: Vertragings in betaalmeestersaak noodsaak nou geregtelike saakbestuur

Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.
Scales of justice and Gavel on sounding block, object and law book to working with judge agreement in Courtroom, Justice and Law concept.

Sakeliga het op 14 Desember 2021 sy regspan opdrag gegee om die kantoor van die Regterpresident van die Noord-Wes Afdeling van die Hooggeregshof, Mahikeng, te nader om ‘n spesiale allokasie van sy aansoek om ingryping in die Ditsobotla (Lichtenburg) en Naledi (Vryburg) plaaslike munisipaliteite. Dit is, om ‘n allokasie op die hofrol in die nabye toekoms te verseker in die openbare belang en weens kompleksiteit van die saak. In ‘n skrywe wat tans aan die regspanne van die verskillende staatsdepartemente wat die saak opponeer beteken word, versoek Sakeliga verder ook dat direktiewe gegee word ten einde die respondente te dwing om hul samewerking met die finalisering van die hofstukke te gee.  

Sakeliga sukkel reeds sedert Mei, 2021 om volledige samewerking by sekere van die respondente – munisipaliteite en regeringsamptenare – te kry ten einde die saak na verhoor te neem.  Weens ‘n deurlopende rompslomp met die lewering van antwoordende verklarings (met die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit wat steeds nie antwoordende verklaring gelewer het nie), en die laat lewering van ander antwoordende eedsverklarings, sukkel Sakeliga tans om ‘n verhoordatum te bekom.  Bo-en-behalwe ‘n algemene traagheid met die lewering van antwoordende hofstukke, het daar intussen ook tussentydse dispute ontstaan wat die saak moontlik nog langer uit die hof gaan hou.  Onder andere is daar tans ‘n hangende aansoek deur die Naledi Plaaslike Munisipaliteit aanhangig gemaak om die geheel van ‘n verduidelikende verklaring wat op 8 September 2021 deur Eskom geliasseer is, te skrap. 

Eskom se verklaring brei in besonderhede uit oor die verval van Naledi-munisipaliteit en ondersteun die regshulp wat Sakeliga in sy hoof-aansoek versoek. Beide Eskom en Sakeliga opponeer tans die Naledi-skrappingsaansoek.  

Sakeliga het verder ook op 9 Desember 2021 ‘n bevel teen die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, die LUR vir Samewerkende Regering in Noord-Wes, die LUR vir Finansies in Noord-Wes en die Premier bekom ten einde die partye te dwing om verskeie rekords waarna hierdie partye in eedsverklarings van 25 Augustus 2021 verwys, aan Sakeliga te lewer.  Sakeliga het reeds op 31 Augustus 2021 afskrifte van dié rekords versoek.  Weens ‘n gebrek aan samewerking aan die kant van die respondente, het Sakeliga geen ander keuse gehad as om die Hooggeregshof om spesifieke regshulp te nader nie. Die bevel is met koste toegestaan en Sakeliga is tans in proses om die bevel teen die versuimende respondente af te dwing. 

Die rekords wat versoek is hou verband met ingrypings wat na bewering sedert 2018 deur die provinsiale en nasionale regerings in Ditsobotla en Naledi onderneem is.  In antwoordende eedsverklarings word daar na hierdie rekords verwys.  Die respondente het egter versuim om die rekords by hulle verklarings aan te heg.  Daar is geen rede waarom ‘n party wat tydens die opstel van eedsverklarings op rekords steun, nie daardie dokumente onmiddellik kan voorsien nie.  Selfs met die dreigement van ‘n spesiale aansoek om nakoming van die versoek af te dwing, bly die nasionale en provinsiale regerings steeds in versuim om die rekords te lewer.   

As gevolg van hierdie gebrek aan samewerking deur die regering, verkeer die aansoek nog in die proses van verhoorvoorbereiding, maar was reeds veronderstel om teen einde September 2021 verhoor-gereed te wees.  

Merkbaar uit die hofstukke wat reeds geliasseer is, is dat beide die nasionale sowel as provinsiale regeringsfere al reeds vir etlike jare ten volle bewus is van die groeiende finansiële en ander krisisse waarin Ditsobotla en Naledi munisipaliteite verkeer. Sakeliga steun in sy hofstukke onder andere op artikel 139 van die Grondwet, wat bepaal dat die provinsiale en soms nasionale regering verplig is om in te gryp by munisipaliteite onder sekere omstandighede waar dienslewering- en finansiële verpligtinge nie nagekom word nie. 

Self maande nadat Sakeliga sy hofaansoek op die provinsiale en nasionale regeringsfere beteken het om grondwetlike pligte van die provinsiale en nasionale regering af te dwing ten opsigte van die vervalle respondent-munisipaliteite, is daar steeds geen daadwerklike stappe geneem om ‘n bestuursverandering af te dwing nie. Dit getuig van ‘n onwilligheid of onvermoë van provinsiale en nasionale regering om daadwerklik in te gryp. Dit is ook vir hierdie rede dat Sakeliga verdere regshulp vra in die vorm van ‘n onafhanklike, spesiale betaalmeester.  

Sakeliga sal sy versoek vir spesiale allokasie in die volgende paar weke by die Regterpresident se kantore indien, met die doel dat die hof geregtelike saakbestuur toepas ten einde die saak so gou moontlik tot verhoor te bring. 

 

Woordvoerders: 

Piet le Roux, Uitvoerende Hoof: Sakeliga 
[email protected]

Tian Alberts, Regs- en Skakelbeampte: Sakeliga 
[email protected]

 

Archives