Sakeliga versoek terugtrek van foutiewe regeringsdirektief oor verpligte inentings in werksplek

pexels-cottonbro-3952224

Die sakeorganisasie Sakeliga het vandag in ‘n prokureursbrief ‘n dringende beroep op die Minister van Arbeid vir duidelikheid en regstelling gedoen nadat  ‘n mediaverklaring van die Departement van Arbeid ‘n wanindruk oor verpligte inentingsprogramme in werksplekke geskep het. Gelykluidende direktiewe wat deur die Minister van Arbeid uitgereik is, skep die indruk dat werkgewers verpligte inentingsprogramme vir werknemers en kontrakteurs van stapel moet stuur. Die Departement probeer skynbaar die risiko van grondwetlike regskendings na werkgewers oordra, in plaas van om self daarmee te handel.
 
“Sakeliga ondersteun vrywillige inentingsprogramme in die werksplek. Geen werknemer behoort egter verplig te word of kan volgens wet verplig word om mediese intervensies teen hul wil en buite-om die dienskontrak te onderneem nie, en direktiewe of beleidsrigting van die Departement van Arbeid tot die teendeel is ongeldig,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.
 
Sakeliga neem kennis daarvan dat sekere werkgewers, insluitend ondernemings in staatsbesit, nou ‘n proses van stapel gestuur het wat verpligte inentings van werknemers en onafhanklike kontrakteurs vereis. In hierdie verband word verskeie meganismes aangewend om werknemers te verplig om deel te neem aan inentingsprogramme, waaronder dreigemente van ontslag of ander dissiplinêre strawwe.
 
Le Roux bevestig verder aan die hand van regsadvies wat Sakeliga oor die kwessie ingewin het dat daar geen algemeen geldende regsvoorskrif bestaan wat voorsiening maak vir die skending van ‘n persoon se reg op liggaamlike integriteit nie.
 
“Dit wil voorkom of verwarring veroorsaak word deur die minister se beleidsriglyne oor verpligte inentings, dat dit ‘n skyn van legitimiteit rondom verpligte inenting skep, en dat dit reeds tot ‘n growwe skendings van liggaamlike integriteit in die werksplek gelei het. Dit verg benadrukking dat daar nie wetgewing bestaan wat voorsiening maak vir verpligte inentingsprogramme nie”
 
Sakeliga se skrywe aan die minister en die departement eis teen 12 Augustus ‘n terugtrekking van die onlangse beleidsdirektief in soverre dit onwettiglik voorsiening maak vir oënskynlik legitieme en verpligte inentingsprogramme, en versoek ook dat ‘n mediaverklaring uitgereik word om die publiek in kennis te stel van die korrekte regsposisie rakende die reg op grondwetlike liggaamlike integriteit.

Laai hier die oorspronklike prokureursbrief aan die minister, af.

Archives