Sakeliga stuur skrywe aan Pretoria Landdroshof oor versuim om besigheidsake te hanteer

pexels-sora-shimazaki-5668882

Die sakeorganisasie Sakeliga en lede van die Pretoriase Balie het Vrydag ‘n dringende brief aan die kantoor van die hoofregter, die Tshwane -hooflanddros, die landdroskommissie, die agbare regterpresident Mlmabo en die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling gestuur waarin hulle die hof aanmaan om verskeie sake, onder meer geopponeerde kommersiële sake en sake wat voor die kleineisehof moet dien, onmiddellik te hervat om verdere verliese vir besighede te vermy. 

Dit volg op ‘n direktief by dié landdroshof wat Covid-regulasies aanvoer om sekere sake nié te hanteer nie. Dit sluit sake ingevolge artikel 65, 65A(1) en 74 van die Wet op Landdroshowe, wat onderskeidelik voorsiening maak vir die invordering van skuld teen ‘n skuldenaars teen wie ‘n vonnis toegestaan is, skuld tussen besighede en administrasieverhore.  Voorverhoorkonferensies, belastingsake en sake wat in die kleineisehof opgelos moet word, kry ook nie aandag nie. 

“Besighede in Suid-Afrika het reeds onberekenbare skade gely weens inperkings. Toegang tot vinnige en effektiewe regspraak indien hulle debiteure versuim of wyer om hulle skuld te betaal, is noodsaaklik. Daarsonder sal talle besighede nie kan oorleef nie en tot verdere werksverliese lei – iets wat ons kwalik kan bekostig.” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. 

Sakeliga bevraagteken die rasionaliteit van die hof se Covid-direktief. “Buiten dat die direktief op fase 4-inperkings, wat nie meer van krag is nie, baseer is, kan daar geen argument gemaak word dat ‘n artikel 65-saak (wat nie toegelaat word nie) ‘n groter gesondheidsrisiko as ‘n artikel 57-saak (wat wel toegelaat word) inhou nie. 

Sakeliga het die hooflanddros en landdroskommissie tot Vrydag, 6 Augustus tyd gegee om skriftelik te reageer en voorstelle te maak om die saak reg te stel, waarna regstappe oorweeg kan word.  

Woordvoerder: Tian Alberts, Regs- en skakelbeampte [email protected]  

Archives