Sakeliga stel Russell Lamberti as hoofekonoom aan

Russle

Die sakegroep Sakeliga het Russell Lamberti as hoofekonoom aangestel, effektief 1 September 2021.

Lamberti sal verantwoordelik wees vir ekonomiese en beleidsontleding en –ontwikkeling by Sakeliga, gerig nie slegs op regulatoriese hervorming nie, maar ook op die ontwikkeling van privaatsektoralternatiewe en oplossings. Hy sal strategiese en bestuursbydraes ter ondersteuning van die organisasie se missie lewer, naamlik die skep van selfstandige sakegemeenskappe vir ‘n florerende samelewing.

Lamberti sal aanbly as ‘n lid van Sakeliga se direksie, ‘n posisie waar hy reeds vanaf Januarie 2021 in ‘n nie-uitvoerende kapasiteit dien. Hy sluit egter nou voltyds by die uitvoerende span aan, wat sedert 2017 onder leiding van die uitvoerende hoof en direkteur, Piet le Roux funksioneer.

“Russell Lamberti is ‘n uitstekende passing vir Sakeliga se missie,” sê Le Roux. “As ervare ekonoom en makrostrateeg, met ‘n rekord van advies aan topvlak fondsbestuurders en professionele beleggers in ‘n globale en – besonders moeilike – Suid-Afrikaanse konteks, bring hy uitgebreide probleemoplossingservaring na die organisasie.

“By Sakeliga sal hy nie slegs die ekonomiese en beleidspan lei nie, maar ook help om in ‘n uitdagende sakeomgewing oplossings vir staatsbestande ekonomiese aktiwiteit en vir groter sakeselfstandigheid te konseptualiseer en implementeer, in belang van voorspoed en ‘n florerende samelewing.

“Hierdie is ‘n opwindende en verfrissende geleentheid en kom op ‘n tydstip waarin regulasies en bedryfstoestande besonder onvriendelik vir besigheid, welvaartskepping en die vestiging van veilige en voorspoedige gemeenskappe geword het,” sê Lamberti. “Ek sien uit na die groot uitdaging en voorreg om Sakeliga se lede te dien en by die uitstekende span van Sakeliga aan te sluit in ons werk om institusionele kapasiteit te bou, vir ‘n veilige, voorspoedige en staatsbestande netwerk en bedryfsomgewing.

Russell Lamberti het gegradueer aan die Skool vir Ekonomie van die Universiteit Kaapstad, waarna hy by die ekonomiese konsultasiemaatskappy, Econometrix, aangesluit het. Later het hy die posisie van hoofstrateeg van ETM Analytics beklee, en daarna die beleggingsadviesonderneming, ETM Macro Advisors, opgerig. Lamberti is ‘n outeur, gereelde openbare spreker en ervare ontleder van ekonomiese en beleidsaangeleenthede.

Archives