Sakeliga stel nuwe klankkanaal bekend

verskans

Vandag stel ons ons nuwe program, Verskans, bekend. Ons betree tans ‘n nuwe fase. So tussen alles waaraan Sakeliga se Stategiese Ontledingseenheid werk, het ons gereëlde produk 3 Minute, 3 Sake tot ‘n einde gekom. In plek daarvan bied ons Verskans, ‘n nuwe program waarin ons kyk na die strategie en taktieke vir ‘n selfstandige kommersiële orde.  

Verskans, hoekom juis nou? 

Vantevore, voor 2020, was ‘n program soos Verskans reeds nodig. Die beleidsomgewing het ondernemings destyds reeds onder hewige druk geplaas en ons het besef oplossings is nodig.  

Tot dusver volg Sakeliga ‘n strategie wat opsigtelike litigasie insluit. Ons onlangse uitspraak in die grondwethof is ‘n belangrike stap om die invloed van BEE oor besigheid te verklein. Ons moet die staat se mag balanseer op die gebied van beleid en wetgewing sodat ruimte vir ‘n selfstandige kommersiële orde uitgebrei kan word.  

Litigasie is egter slegs ‘n deel van ons hele strategie. Sakeliga werk tans hard aan staatsbestande infrastruktuur om die kommersiële orde te steun, ongeag die doen en late van ‘n vervallende staat. Sakekamernetwerke en opwindende verwikkelinge in geskilbeslegting is voorbeelde van hierdie oplossings,  maar die oplossing moet nog verder gaan.  

Daarom bou ons aan tegnologie om lede te verbind op maniere wat hulle daartoe in staat stel om op hulle terme en volgens hul eie voorgenome sakekodes te handel. Ons voorsien verder ook wesenlike gevare in die finansiële sektor en stel tans ondersoek in na oplossings en oorweeg litigasie. 

Die beleidsomgewing in die nadraai van Covid-19 inperkings   

Ons besef dat regeringsbeleid nog meer oordadig gaan word, vandaar die bestaansrede vir Verskans.  

Kom ons neem bietjie bestek van die laaste twee jare. Covid-19 was natuurlik nie die eerste pandemie nie, maar wat veral uitstaan teenoor die verlede is die klakkeloosheid waarmee inperkingsbeleide wêreldwyd ingestel is.  

‘n Omstrede beleid vanuit China is klaarblyklik nou in die Weste genormaliseer. Die drakoniese lockdowns, die beperkinge van beweging, handel en produksie was miskien te wagte in ‘n land soos China, wat openlike as ‘n outokratiese bedeling bekendstaan.  

Wat egter verrassend was, was die soortgelyke optrede van regering van lande soos  die VSA, Brittanje en Kanada wat drakoniese inperkings van hul eie soortgelyk toegepas het. Daarby sien ons nou dat lande soos Australië, New-Seeland, Oostenryk en ander Europese lande enstofverpligtinge oorweeg of ingestel het. Iets wat uit pas met die verlede in Westerse demokrasieë. 

Hierdie dwangbeleide het natuurlik newe-effekte. Plaaslik sien ons hewige werksverliese, groot ontwrigting van opvoeding, onderbreking van HIV- en TB-programme, heelwat mislukte ondernemings, en dies meer. Dit terwyl die uiteindelike suksesse van grendelbeleide om Covid te bestry twyfelagtig is en heelwat sterker bewyse benodig om werklik as effektiewe beleide beskou te kan word.  

Daar is egter min wat aandui dat sodanige beleide vinnig sal verdwyn, veral in Suid-Afrika. Die ramptoestand mag miskien opgehef word, maar baie van die rampregulasies gaan waarskynlik oorleef in ander wette.  

Die departement van toerisme het reeds van die regulasies, soos reëls vir maskers en sosiale afstand onder die toerismewet se regulasies verewig.  Die departemente van arbeid en indiensneming, en gesondheid het beide nou nuwe regulasies ingestel wat die ramptoestand in effek voortsit. Die publiek kan tot die 15de April 2022 daarop kommentaar lewer. 

Die bogenoemde beleide, sou hulle aanvaar word, gaan bydrae tot die bestaande uitdagings van sakelui soos BEE, regstellende aksie, tekorte aan elektrisiteit en algemene rompslomp vanweë regeringsbeleide soos by verkryging. 

Verskans betree nou hierdie wêreld. Ons meen dat ondernemings, gemeenskappe, en individue tans harder as ooit sal moet werk om funksionele onafhanklikheid en ‘n florerende lewensruimte te handhaaf.  

Daarby besef ons dat slegs ‘n outonome burgery, gemeenskappe en  ondernemings voldoende wal sal kan gooi teen mistastings en magsvergrype van regerings, waar baie beleidmakers nou deur die bank deur ‘n etos van uitbreidende staatsmag aangevuur word.  

Staatsmag moet gebalanseer word, maar die balans gaan al hoe moeiliker uit die staat se eie meganismes na vore tree.  

Die ongebreidelde beleidmaker 

Sakeliga se Strategiese Ontledingseenheid meen dat hierdie ontluikende filosofie oor openbare beleid weerspieël word deur ‘n ongebreidelde etos in die perspektief op openbare beleid. Hierdie etos kom daarop neer dat owerhede en amptenare al hoe meer vrymoedigheid neem  om enorme ontwrigtende beleide op samelewings af te dwing.   

Die gevoel ontstaan dat beleidmakers van die verlede, veral in die Weste, versigtiger gebonde sou wees aan konstitusionele perke in hul voorstelle en reaksie op soortegelyke uitdagings, maar dit wat as remme en teenwigte op grootskaalse ingrepe gedien het is klaarblyklik nou uit die prentjie.  

Kanada vries bankrekeninge 

Onlangse gebeure in Kanada oor entstofmandate en protes gee verdere insig in hierdie nuwe beleidetos.  Dit wys daarop dat beleidmakers en leiers soos Kanada se eerste minister Justin Trudeau sterker volgens die etos van uitbreidende staatsmag sal handel. Gevolglik sien ons nou ongekende stappe in ‘n Westerse jurisdiksie, waar selfs private bankrekeninge in gedrang gekom het.   

Die algemeen aanvaarde Westerse beskouings van vryhede waarmee baie van ons bekend geword het oor die jare, soos liggaamlike outonomiteit en vryheid om nie aan gedwonge mediese behandelings onderwerp te word nie, is skynbaar nou deur baie kenners en kommentators nietig verklaar.  Sakeliga glo op sy beurt dat die afdwing van mandate die deur oopmaak vir ‘n ‘gemoniteerde samelewing’ waar die Staat en sy apparatus gedurig oor doen, late, gesondheid en beweging sal beslis, en op maniere wat erg indruis teen voorheen aanvaarde vryhede en burgerregte. 

Afgesien van ons sienings oor die regmatigheid of legitimiteit van die Kanadese Freedom Convoy, vat die reaksie van die Trudeau-regering om persoonlike bankrekeninge, algemeen en sonder individuele skuldbevindinge te vries, uitvoerende magte beslis te ver.  

Kanada is egter nie die enigste Westerse moondheid waar dié nuwe ongebreidelde beleidmaker na vore getree het nie. Oostenryk, Australië, en Nieu-Seeland het ook uiterse outoritêre Covid- en entstof-verwante beleide ingestel, desondanks die sterk konstitusionele tradisies wat vantevore in daardie Westerse samelewings geheers het.  

Daar is wel goeie rede waarom eensydige batebeslaglegging deur owerhede (of beleide soos onteiening sonder vergoeding) vantevore met groot kritiek verwerp en vermy is. Sulke optrede kan selfs ‘n konstitusionele orde op sigself in gedrang bring.  

Duidelik is ‘n staat wat maklik en met arbitrêre oordeel bankrekeninge kan vries – en daardeur in effek op lewensnoodsaaklike bates beslag lê – ook ‘n staat wat ‘n groot gevaar inhou vir die voortbestaan van ‘n sterk onafhanklike burgery en kommersiële sektor.  

Onafhanklikheid van burgery, sakesektor beslis nodig 

Dit is juis die onafhanklikheid van die burgery, die sakesektor, en ander instellings, wat ‘n platform skep om teenstand te bied waar regerings te ver gaan.  

Waar regerings eiendom bloot deur buitegeregtelike uitvoerende besluite kan ontneem, gaan ‘n outonome burgery en instellings moeilik kan voortbestaan om teen vergrype van staatsmag te kan terugdruk.  

Die “nuwe normaal” van openbare beleid 

Maak geen fout nie. Die gevestigde sieninge oor vryhede, skeiding van magte, en ander konstitusionele beginsels waaraan baie van ons gewoond was, is nou in gedrang.  

‘n Wêreld waar regerings te maklik drakonies kan optree en yslike arbitrêre magte in hande van amptenare plaas is ‘n wêreld wat afwyk van orde en nader beweeg aan wanorde.  

‘n Etos van uitbreidende staatsmag wat heers in openbare beleidstoepassing is gevaarlik. Daarom is dit belangrik dat burgerlike instellings, insluitende die sakesektor moet verseker dat sodanige balansering van staatsmag plaasvind. Ons kan dit selfs as ‘n konstitusionele plig beskou.  

Om hierdie plig uit te oefen sal moeiliker raak waar regerings willekeur op burgers se bates en eiendom beslag lê.  

Daarom is dit nodig dat die bestaan van ‘n outonome burgery en ‘n onafhanklike kommersiële sektor verseker word. Dit moet in alle aspekte plaasvind, maar veral nou in die finansiële stelsel wat lewensnoodsaaklike bates van burgers bewaar.    

Verskans staan skepties teenoor hierdie ongebreidelde staatsmag en gunstig teenoor gesonde wigte en teenwigte, asook remme teen beleide wat erkende vryhede en outonomiteit tot niet maak.   

Ons Verskans verslae is daar om sin te maak van hierdie wêreld, om maniere te vind om doeltreffend te koördineer om staatsmag te balanseer, en om seker te maak dat ‘n outonome burgery en kommersiële orde kan voortbestaan, ongeag die doen en late van die ongebreidelde hedendaagse beleidmakers in die nadraai van die Covid-era.  

Besoek ons gerus op Maroela Media.   

Verskans word eksklusief in samewerking met Maroela Media vrygestel. In hierdie program gaan ons gereelde artikels en besprekings lewer om ‘n selfstandige en staatsbestande kommersiële orde te vestig.   

Archives