Sakeliga staan nuwe poging vir monopolisering van dienslewering teen

Sakeliga het aan sy prokureurs instruksie gegee om aansoek te doen vir toevoeging as amicus curiae (vriend van die hof) in ‘n hofsaak waarin die applikant, SALGA, vra vir ‘n verklarende bevel dat munisipaliteite eksklusiewe reg geniet om elektrisiteit binne hul jurisdiksies te versprei. Sakeliga is gekant teen die proposisie dat munisipaliteite sodanige eksklusiewe regte geniet om sonder uitsondering middelman te wees in die voorsiening en verspreiding van elektrisiteit. 

SALGA – ‘n vereniging wat Suid-Afrika se munisipaliteite verteenwoordig – teken beswaar aan teen Eskom en private verskaffers wat direk elektrisiteit aan eindgebruikers voorsien sonder ‘n magtigende ooreenkoms met relevante munisipaliteite. SALGA steun op Deel B van Bylae 4 van die Grondwet, wat elektrisiteitsvoorsieningstelsels as “uitvoerende funksionele bevoegdheid” van plaaslike regerings identifiseer, en voer aan dat munisipaliteite dan eksklusiewe reg het op elektrisiteitsvoorsiening. 

Sakeliga stem nie saam met die konstitusionaliteit van so ’n aanspraak nie en ook nie met SALGA se interpretasie van die Grondwet en wetgewing nie, en sal submissies daaroor voor die hof maak. Meer belangrik, egter, is dat die monopolie op elektrisiteitsvoorsiening wat SALGA deur hofprosesse vir munisipaliteite wil bewerk, groot skade kan inhou vir eindgebruikers in vervalle munisipaliteite waar die munisipaliteite tans eenvoudig nie vir Eskom betaal nie.* 

Resilient– en betaalmeestersaak 

In die sogenaamde Resilient-saak in 2020 voor die Hoogste Hof van Appèl het Sakeliga – ook as amicus curiae – deurslaggewend geargumenteer dat Eskom nie eindgebruikers se elektrisiteit sonder meer mag afsny waar munisipaliteite versuim om Eskom tydig te betaal nie. Hierdie argumente het aanleiding gegee tot ‘n nuwe presedent wat die howe moet navolg in die toekoms. Sakeliga is egter terselfdertyd bedag op die feit dat dit onhoudbaar sou wees indien Eskom aanhou dienste lewer sonder betaling van munisipaliteite. Daarom het Sakeliga die sogenaamde betaalmeester-hofsaak in Noord-Wes gebring  om  te vra dat die hof ‘n spesiale betaalmeester aanstel. Die betaalmeester moet  sekermaak dat gelde vir kritieke dienste vanuit ‘n afgesonderde munisipale bankrekening na verskaffers soos Eskom oorbetaal word.  

 In beide Resilient en die betaalmeestersaak was en is Sakeliga se strategie om – waar vervalle munisipaliteite elektrisiteitsverspreiding en ander dienslewering hanteer – die eindgebruiker te beskerm teen korrupsie en wanbestuur wat tot ‘n gebrek aan dienslewering aanleiding gee. Waarvoor SALGA daarenteen in hul hofaansoek vra, is dat enige munisipaliteit – selfs vervalle munisipaliteite – ‘n uitsluitende monopolie op elektrisiteitsvoorsiening moet hê. Dit sal eindgebruiker verhoed om direk elektrisiteit by Eskom en privaatverskaffers aan te koop. Sakeliga wil verhoed dat daardie relatief stabiele elektrisiteitsvoorsieningskemas waar vervalle munisipaliteite nie ‘n middelman is nie, ook blootgestel word aan korrupsie en verkwisting op plaaslike regeringsvlak. Sakeliga sal sulke verwikkelinge  teenstaan. 

Munisipale wanorde en versuim om skuldeisers soos Eskom te betaal, wat tot die Resilient– en betaalmeester hofsake aanleiding gegee het, dui beslissend daarop dat eindgebruikers in probleem-munisipaliteite juis nie verplig moet word om deur middel van munisipaliteite wat bodemlose putte van onreëlmatige en selfs kriminele verkwisting is, dienste aan te koop nie.  

Sakeliga se standpunt en gepaardgaande strategie 

Sakeliga se standpunt is: 

  1. Sakegemeenskappe – veral op plaaslike vlak – moet boublokke lê vir ‘n staatsbestande sakeomgewing, wat alternatiewe en private diensleweringsmeganismes behels;
  2. Vervalle munisipaliteite wat byvoorbeeld nie finansiële verpligtinge kan nakom of dienste kan lewer nie, moet nie ‘n verpligte middelman wees waardeur die eindgebruiker goedere en dienste soos elektrisiteit moet aankoop nie; en
  3. Waar eindgebruikers tans geen keuse het as om op dienslewering van vervalle munisipaliteite te steun nie, behoort gelde vir dienslewering op ‘n verantwoordbare wyse verhaal en direk aan verskaffers oorbetaal te word – soos byvoorbeeld aan die hand van ‘n onafhanklike betaalmeester. 


Sakeliga se gepaardgaande strategie is:
 

  1. Ontwikkel platforms met netwerk- en skaalvoordele vir sakelui om onafhanklik van die staat besigheid te doen en dienste te lewer; en
  2. Hervorm plaaslike regeringstrukture waar moontlik en noodsaaklik deur middel van litigasie en ander ingrypings, ten einde die beste moontlike omstandighede vir besighede en ander gebruikers binne die bestaande wetgewende raamwerk en infrastruktuur te verseker.  

Die SALGA-saak is op 14 September 2021 by die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria geliasseer. Die respondente is verskeie verskaffers, waaronder privaatverskaffers, van elektrisiteit. Sakeliga het reeds aan SALGA se regspan geskryf dat Sakeliga toegang verlang tot die hofrekord en ‘n belang by die saak het. Sakeliga gaan die verwikkelinge in die SALGA-hofsaak fyn dophou en te gelegener tyd sy aansoek om voeging as amicus curiae liasseer.
 

*Eskom dokumenteer byvoorbeeld in ‘n verduidelikende eedsverklaring in Sakeliga se betaalmeester-saak dat die Naledi Plaaslike Munisipaliteit in Noord-Wes weier om skulde aan Eskom te vereffen en kies om eerder beskikbare fondse op ander nie-noodsaaklike begrotingsitems en onreëlmatige uitgawes bestee. Lees meer hier. 

Archives