Sakeliga speel saakmakende rol in Konstitusionele Hof-litigasie oor wapenbesit

gun-g463f6e0a6_1920

Sakeliga kon weereens* ‘n saakmakende rol speel in die Konstitusionele Hof – dié keer oor die beskerming van eiendomsreg van wapeneienaars.  

Sakeliga het, as amicus curiae (vriend van die hof), sy steun agter die sekuriteitsmaatskappy, Fidelity, gewerp. Fidelity het die saak aanhanging gemaak om die Minister van Polisie te verhoed om honderde van hul vuurwapens te vernietig op sterkte van die polisie se sinnelose interpretasie van die Wet op Wapenbeheer. 

Die hof het in Fidelity se guns beslis dat wapens, ten opsigte waarvan die lisensies verval het en daarom by die polisie ingehandig is, wel vir nuwe lisensieaansoeke in aanmerking kom en nie vernietig hoef te word nie. Die Minister van Polisie het sonder sukses aangevoer dat wapens waarvan die lisensies verval het vernietig mag word sonder om die lisensiehouer (in hierdie geval Fidelity) geleentheid te bied om ‘n nuwe aansoek vir lisensiëring en wettige besit te doen. 

Sakeliga wens Fidelity geluk met hierdie belangrike oorwinning vir wapeneienaars. Sakeliga is bly om ‘n wesenlike bydrae tot die uitkoms te kon lewer, by wyse van unieke argumente oor die eiendomsreg van wapeneienaars, ekonomiese realiteite, en behoorlike prosesreg. 

Die Konstitusionele Hof het gunstige oorweging aan Sakeliga se argumente geskenk. In die formulering van die uitspraak en uiteindelike bevindings blyk dit dat onder andere die volgende argumente van Sakeliga ‘n merkbare impak gehad het: 

  • Sakeliga voer aan: Die staat is verplig om wapeneienaars se regte op vryheid en veiligheid van die persoon, en reg om nie van eiendom ontneem te word nie, te beskerm, bevorder en verwesenlik. Die Minister se interpretasie van die Wet bereik die teenoorgestelde.

    Die hof bevind: Die Minister se interpretasie is verkeerd. Die Wet moet op ‘n wyse geïnterpreteer word wat met konstitusionele waardes en beskerming van eiendomsreg ooreenstem. 

  • Sakeliga voer aan: Die Minister se interpretasie van die Wet is regtens onhoudbaar, want dit impliseer dat wapens waarop beslag gelê is, byvoorbeeld weens nalatigheid, wel vir nuwe lisensieaansoeke in aanmerking kom, maar dat wapens wat korrek gebruik is maar net nie betyds hernu is nie en daarom in goede trou ingehandig is vernietig moet word.

    Die hof bevind: Daar kan nie onderskeid getref word tussen die wyses waarop die polisie besit van wapens ontneem nie. Ongeag die omstandighede waaronder besit ontneem word (vrywillige inhandiging of ontneming), is wapeneienaars geregtig op ‘n geleentheid om wettige besit van hul wapens te herstel deur aansoek vir nuwe lisensies te doen. 

  • Sakeliga voer aan: Die vernietiging van wapens wat andersins vatbaar is vir lisensiëring maar waarvan lisensies bloot nie tydig hernu is nie, kom neer op ‘n formalistiese benadering wat ekonomies onhoudbaar is vir wapeneienaars.

    Die hof bevind: Dit is nóg sinvol nóg besigheidsgerig (‘businesslike’) vir die Minister om die Wet te interpreteer asof ‘n eienaar wat wapens by die polisie ingehandig het, weens lisensies wat verval het, nie vir nuwe lisensies mag aansoek doen nie  
     

Sakeliga se betrokkenheid in die Fidelity-saak spruit uit ons verbintenis tot beskerming van privaat eiendom, asook ‘n erkenning van die rol wat privaatsekuriteitsmaatskappye speel om eiendom deurlopend te beskerm. Privaatsekuriteitsdienste speel ‘n deurslaggewende rol in gemeenskaps- en besigheidsbeskerming en -sekuriteit, wat help om die platform te lê vir sake doen in stabiele en veilige omgewings. Die uitspraak in die Fidelity-saak is ‘n oorwinning vir wapeneienaars en privaatsekuriteitsmaatskappye. Dit ruim een van die vele burokratiese beletsels op die besit van vuurwapens uit die weg. 

Leer meer oor die agtergrond van die saak hier. 

Steun sakeliga se litigasie hier.

*Sakeliga het verlede jaar ook as amicus curiae deurslaggewende argumente voor die hof geplaas in Eskom Holdings SOC Ltd v Resilient Properties (Pty) Ltd and Others, oor water- en kragonderbrekings. Lees meer hier. 

Uitgereik deur: 

Tian Alberts 
Regs- en Skakelbeampte, Sakeliga  

Piet le Roux 
Uitvoerende Hoof, Sakeliga 
 

Archives