Sakeliga skenk R500 000 vir Covid-19-verligting 

bank-banking-banknotes-business-210574

Die besigheidsgroep, Sakeliga, het vandag aangekondig dat dit R500 000 beskikbaar maak vir Covid-19-verligting. Aanvanklike toedelings uit die fonds sluit in R100 000 aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds vir noodleniging, en R100 000 vir ‘n regshulppakket aan kleinsakelui.

“Die beste manier om nou materiële nood te verlig is om gemeenskappe en plaaslike ekonomieë te versterk. Sakeliga bestee reeds die grootste deel van ons hulpbronne aan die verligting van die inperkingsmaatreëls, maar ons wil ook ‘n eerste stap van direkte finansiële hulp neem,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Daarom skenk Sakeliga vandag twee maal. Enersyds R100 000 aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds vir die verligting van akute nood, soos broodgebrek, wat verband hou met die inperkingsmaatreëls. Dit is ‘n uitstekende inisiatief van die Solidariteit Beweging om, in die gees van die Helpmekaarbeweging, 7 April tot ‘n helpmekaardag te verklaar – en ons moedig sakelui aan om daaraan deel te neem,” sê Le Roux.

Le Roux vervolg: “Andersyds reserveer ons nog ‘n R100 000 vir ‘n regshulppakket aan informele, klein en mediumgrootte ondernemings. Die regshulppakket behels dat Sakeliga 50% van die koste sal dra vir die onderneming om ‘n regsmening te bekom oor óf en hóe hul aktiwiteite noodsaaklikheidsvrystellings kan kry.”

Die oorblywende R300 000 van Sakeliga se fondse sal in die komende weke toegedeel word.

Regshulppakket vir noodsaaklikheidsvrystellings 

Sakeliga word sedert die begin van die inperkingstyd oorval met navrae oor wat as noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste kwalifiseer.

“Die regulasies oor noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste het ernstige tekortkominge, soos aan ons bevestig in die menings van senior advokate. Wetstoepassers en ondernemings sukkel geweldig om dit te interpreteer. Dit lei tot onnodige sluiting en belemmering van besighede – veral van klein besighede, vir wie gespesialiseerde regsadvies dikwels buite finansiële bereik is,” sê Le Roux.

“Daarom kondig Sakeliga die halfprys-regshulppakket aan: ons moet so vinnig as moontlik so veel as moontlik besighede se deure oop maak en oop hou. Met ekonomie van skaal en met ‘n 50%-subsidie bring ons gespesialiseerde, individuele regsmenings binne finansiële bereik van informele, klein en mediumgrootte ondernemings. Met ‘n persoonlike regsmening in die hand, wat steun op die regsmenings van ons senior advokate, sal sulke ondernemings vrygestelde aktiwiteite makliker kan voortsit. Indien daar steeds ‘n probleem is, sal Sakeliga hulle dan ook makliker kan help.”

Sakeliga sal op 8 April aankondig watter proses sakelui kan volg om van die regshulppakket gebruik te maak.

Die R500 000-fonds wat Sakeliga vandag aankondig word gedoen naas ander verligtingsmaatreëls wat Sakeliga reeds tref. Dit sluit onder meer in:

  • Waghondrol oor regulasies, om wetstoepassers en staatsdepartemente te help met verbeteringe en te waak teen skadelike maatreëls
  • Interpretasie-advies aan munisipaliteite, sakekamers en sakelui
  • ‘n Sakeplatform, www.noodsaaklik.co.za, vir sakelui en verbruikers om mekaar te vind
  • ‘n Inligtingsplatform, www.sakeliga.co.za/covid19, vir regulasis, ontledings en hulpbronne
  • Daaglikse interaktiewe sake-webinare, weeksdae tussen 13:00 en 14:00, op www.facebook.com/sakeliga
  • Bystand aan lede wat navrae stuur na [email protected]
Archives