Sakeliga rig PAIA-versoek aan NEF oor gebruik van Solidariteitsfonds-geld

Files

Sakeliga rig tans ‘n versoek om amptelike inligting aan die Nasionale Bemagtigingsfonds (NEF) oor die geld wat dit vanaf die Solidariteitsfonds ontvang en op die basis van ras vir noodleniging gereserveer het.

Die versoek om inligting kom na aanleiding van die NEF se verklaring op 12 Julie 2022, waarin dit die NEF se noodleniging aan ondernemings geraak deur die KwaZulu-Natal-onluste van 2021 beskryf. Volgens die NEF het dit R273m vanaf die Solidariteitsfonds ontvang vir doeleindes van sy uitbetalings aan ondernemings “in besit en onder bestuur van swart entrepreneurs.”

Sakeliga versoek ‘n lys van alle uitbetalings, die bepalings daaraan gekoppel, en die bepalings (indien enige) gekoppel aan die skenking vanaf die Solidariteitsfonds.

Sakeliga waarsku dat dit onwys en baie opsigte onwettig is om sulke noodleniging onderhewig aan ras te maak. Ons wys daarop dat, deur bystand tot maatskappye in swart besit en onder swart bestuur te beperk, die NEF en die Solidariteitsfonds swart én wit werknemers, bestuurders en eienaars wat werk in ondernemings wat gesamentlik besit, bestuur en bedryf word, agterweë laat – en inderwaarheid penaliseer. “Noodleniging” of “bystand” wat op die basis van ras uitsluit, wanneer ander kriteria relevant is, doen afbreuk aan maatskaplike samehorigheid en samewerking in Suid-Afrika.

Oor die algemeen word veels te veel gepoog om probleme in Suid-Afrika deur of by wyse van die staat, eerder as ander organisasies in die samelewing, op te los. Inteendeel, besigheid en samelewing vereis ‘n ingesteldheid van selfstandigheid en onderlinge bystand, nie staats- en staatsgesinde hulp wat uiteindelik altyd gevange word van die dominante heersende ideologie nie.

Archives