Sakeliga: President Ramaphosa se Covid-19-verklaring Sondagaand betekenisvol in beide behulpsame en skadelike opsigte

Sakeliga beskou president Cyril Ramaphosa se Covid-19-verklaring Sondagaand as beduidend in sowel gunstige as skadelike opsigte.  

Ons is diep bekommerd oor sy stelling dat inenting verpligtend kan word, en ook sy vaagheid oor waarmee hy van plan is om die ramptoestand te vervang. Ons verwelkom sy kritiek op wetenskaplik ongegronde politieke besluite oor reisbeperkings en sy weerstand teen verhoogde inperkingsvlakke in Suid-Afrika.  

Dit is bemoedigend dat die president duidelike en welkome begrip toon om die ekonomiese en sosiale lewe grotendeels ongehinderd te laat voortgaan deur die inperking op vlak 1 te hou en nadruklik sy teenstand teen buitelandse regerings se beperkings op reise na en van Suid-Afrika te verklaar. Hierdie aankondiging is ’n belangrike diplomatieke stap om ’n einde te maak aan die stigma en isolasie van reis en toerisme na en van Suid-Afrika, en dit is ook ’n baie belangrike breër standpunt: reisbeperkings, hetsy plaaslik of internasionaal, dra nie tot ’n oplossing by nie en is wetenskaplik ongegrond. 

Die president het ook gepraat van “leer om met die virus saam te lewe” en het te kenne gegee dat sy administrasie begin om die beperkings te hersien met die oog op die opheffing van die ramptoestand. Sakeliga beskou dit as ’n baie welkome klemverskuiwing in aanslag en narratief. Ons maan egter dat die regering dalk kan probeer om die ramptoestand op te hef bloot om te probeer om hierdie magte te verskans as deel van gewone, permanente staatsmagte. Sakeliga sal dit fyn dophou. Die land mag nie permanent oorgelaat word aan die genade van ‘n regering wat perkeloos kan optree nie. 

Ongelukkig word die president se bemoedigende verklarings versuur deur sy aandrang daarop dat almal ingeënt moet word en dat sy administrasie verpligte inenting vir sekere aktiwiteite oorweeg na “breë oorlegpleging” oor so ’n program. 

Hierdie stellings is in stryd met die president se eie beloftes dwarsdeur 2021 dat sy administrasie nie verpligte inenting sal instel nie. Die Ramaphosa-administrasie word in hierdie nuwe rigting gesteun deur die sakegroep Business for South Africa (B4SA), wat ten gunste is daarvan om oningeënte mense toegang te belet tot openbare binnenshuise areas soos openbare vervoer, restaurante en werkplekke. 

Sakeliga staan dit om verskeie redes teë en beskou sulke idees as onraadsaam, en ons reken dit sal waarskynlik aansienlike ekonomiese en sosiale benadeling veroorsaak, soos ons onlangs hier aangevoer het. 

Aangesien meer as 80% van mense waarskynlik nou reeds natuurlike teenliggaampies het, en aangesien meer as 40% van volwassenes reeds die een of ander entstof ontvang het, is dit onsinnig vir die presidensie en groepe soos B4SA om alle Suid-Afrikaners te wil dwing om ingeënt te word en op toenemende inenting aan te dring om virusmutasie te voorkom, soos beweer word. Heel tereg het die president self ander lande van onwetenskaplike optrede beskuldig, maar om herstel van die siekte nie as ten minste gelyk aan inenting te beskou nie en te beweer dat mutasies deur oningeënte mense gedryf word, word in die meeste ander lande tereg as wetenskaplik omstrede of selfs as onwetenskaplik beskou.  

Daar is waarskynlik steeds ’n klein kwesbare groepie met swak immuunstelsels wat nog nie geïnfekteer of ingeënt is nie. Die president, met die steun van groepe soos B4SA, moet hulle daarop toespits om die departement van gesondheid en privaat gesondheidsorgverskaffers toe te laat om entstowwe toe te dien aan diegene in die kwesbare minderheid wat dit wil hê, eerder as om ’n onwyse en gedoemde program van gedwonge inenting vir die hele bevolking aan te pak.  

Maar dit gaan nie net oor inenting nie. Sakeliga waarsku teen ’n stelsel van ”permanente liggaamsmonitering” in die algemeen. So ’n stelsel, waarvolgens gesonde mense gedurig moet bewys hulle is “gesertifiseer as gesond genoeg” om rond te beweeg en hul gang te gaan, is ’n knellende stelsel wat in verskeie opsigte ’n tirannie en ondraaglike formalisering van natuurlike lewenswyses kan en sal daarstel. 

Een van die ernstigste risiko’s van permanente liggaamsmonitering is dat dit mense gewoond maak aan staatsbestuurde beheer en monitering van beweging en die koöptering van die privaat sektor vir implementering. B4SA bepleit in der waarheid nie net gedwonge inenting nie maar ook gedwonge opvolginenting, dalk onbepaald – met die risiko van ’n permanent gemedikaliseerde en gemoniteerde samelewing. 

Dit sal ook tot ongekende staatskorrupsie lei. 

Dit is heeltemal moontlik, dalk selfs waarskynlik, dat die staat kan probeer om ’n skema van gedwonge inenting/opvolginenting in te stel, waar die staat dit nie regstreek afdwing nie maar deur verkryging, oorreding en koöptering groot maatskappye kry om so ’n puntestelsel in te voer en te bedryf, met verreikende, nadelige gevolge. Sakeliga sal dit teenstaan. 

Nog ’n kwellende bedreiging as oningeënte mense gestraf word, is die risiko van wydverspreide geweldpleging, onrus en onluste indien miljoene mense skielik verbied sou word om te pendel, te werk en by restaurante en ander instansies te eet en te drink. Dan is daar ook die geweldige skok vir die verdienste van sakeondernemings wat afhanklik is van die besteding aan hierdie dienste, en die gevolglike werkloosheid. 

Omdat Sakeliga daartoe verbind is om ’n florerende kommersiële en sosiale orde te help bou, bepleit en adviseer ons soos volg: 

  • positiewe, eerlike, vrywillige inentingsveldtogte – wat erkenning van die voordele van natuurlike immuunreaksies en verworwe natuurlike immuniteit insluit. Dit sal waarskynlik lei tot aansienlike welwillendheid onder oningeënte mense en diegene wat nog besluit, wat die ruimte vir konflik sal verminder en ordelikheid en samewerking sal bevorder. 
  • laat vaar skadelike idees van permanente liggaamsmonitering, 
  • vergroot kapasiteit in staatshospitale en verwyder alle beperkings op privaat hospitaalkapasiteit, 
  • verstandige, wedersyds samewerkende, aanpasbare, gedesentraliseerde risikobestuur met betrekking tot Covid-19, en 
  • skaf reisbeperkings af, stel mense in staat om self hulle risiko’s te bestuur, beëindig alle inperkings en hef die ramptoestand op. 

 

Uitgereik deur 
Piet le Roux, Uitvoerende hoof, Sakeliga 
Russell Lamberti, Hoofekonoom, Sakeliga 
 

Archives