Sakeliga ontbloot regering se pseudo-“studie” wat gebruik word om ontneming van private eiedomsregte te bevorder

Die sakegroep Sakeliga het pas ‘n regeringsimpakstudie bekend gemaak oor die onteieningswetsontwerp wat verkry is deur ‘n PAIA-versoek (aansoek ingevolge die Wet op Toegang tot die Bevordering van Inligting). Dit blyk dat die studie voor Sakeliga se PAIA-versoek van die publiek weerhou is.

Die dokument, ‘n sosio-ekonomiese impakstudie (SEIA) wat deur die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur geïnisieer is, gee ‘n uiteensetting van die regering se beoordeling van die koste en voordele van die omstrede Wetsontwerp op Onteiening. Impakstudies word vereis in terme van ‘n kabinetsbesluit van 2015 om te verseker dat die koste van wetgewende en beleidsveranderings, soos in die Wetsontwerp op Onteiening, nie die voordele oorskry nie.

Die SEIA ondersteun konfiskering van eiendom sonder vergoeding en onthul beweerde steun van verskillende instellings vir die wetsvoorstel. Die studie beweer dat daar eenparige steun vir die wetsontwerp bestaan onder die instellings en groepe  wat geraadpleeg is.

Sakeliga versoek die groepe wat in die dokument gelys is, waar onder meer Agri SA, die Banking Association of South Africa (BASA) en die American Chamber of Commerce, om te bevestig dat hul vermeende steun aan die wetsontwerp akkuraat in die studie aangeteken is. Terselfdertyd blyk dit dat opponerende stemme van organisasies soos Sakeliga, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) en die Vryemarkstigting (FMF) onder andere nie in die SEIA oorweeg word nie, wat ‘n fasade van eenparige steun vir die wetsontwerp skep onder die burgerlike samelewing.

Sakeliga veroordeel die oënskynlike weerhouding van die dokument van publieke oorweging en insette sowel as opvallende tekortkominge rakende die inhoud daarvan.

Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, merk op dat “Impakstudies gewoonlik gemeet word aan internasionale standaarde. Die huidige beoordeling, volgens ons oorweging, voldoen nie aan die maatstawwe van ‘n noukeurige regulatoriese impakstudie nie. Dit kom eerder oor eerder as ‘n politieke regverdiging vir onteieningsbeleid en hou nie werklik rekening met die koste van die voorstel nie.”

In die dokument word onder meer beweer dat banke voordeel sal trek uit ‘n toename in hul verbandboeke weens onteiening en staatsbeleid. Sakeliga beskou hierdie bewering as feitelik ongegrond.

“Verder”, vervolg Van Onselen, “modelleer die dokument ook nie die impak van onteieningsbeleid op byvoorbeeld BBP-tendensgroei, werkloosheid, belegging en armoede nie. Inteendeel, dit gaan net oor direkte koste vir die staat – byvoorbeeld om teen litigasie te verdedig – en nie ekonomiese gevolge nie.”

In terme van die ontleding van die vraag of die wetsontwerp belegging sal afskrik, word die beleggers se kommer bloot van die hand gewys deur te beweer dat sulke beweringe “swak ondersteun word” en word daarop gewys dat daar “geen empiriese bewyse” is om die waarneming van die afskrik van belegging te ondersteun nie. Sakeliga merk egter op dat, sedert die vorige administrasie, ‘n verswakkende (afwaartse) tendens van groei van beleggings deur private ondernemings duidelik sigbaar is. Die Ramaphosa-administrasie het boonop min gedoen om breë maatstawwe te herstel, soos die groei in private kapitaalvorming deur sakeondernemings.

Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, is van mening dat Sakeliga se kommentaar nie as teenstrydig met die bevindings van ‘n regeringsverslag beskou moet word nie. “Daar is niks van wesenlike aard om mee saam te stem nie, want die dokument kom neer op ‘n uitgebreide opinieartikel. Ons stem miskien nie saam met die uitgesproke mening nie, maar daar is geen werklike feite, data of ontledings om in ag te neem nie. Dit is nie heeltemal onverwags nie, want daar is in werklikheid geen voordele aan ‘n regstelsel wat regte ontneem soos die beoogde Wetsontwerp op Onteiening sou doen nie.”

Die impakstudie beweer dat die Onteieningswet van 1975 eienaars onregverdig behandel en dat die onteieningstelsel van Suid-Afrika met die Grondwet moet ooreenstem. Die studie beskou die voorgestelde wetsontwerp op onteiening as die antwoord op hierdie uitdagings.

“Hoewel die 1975-wet ver van perfek is, bied dit tans meer beskerming aan privaat eienaars as wat die voorgestelde wetsontwerp doen. Dit waarborg die betaling van solatium – geld vir ongerief – benewens die markwaarde as ‘n basislyn vir vergoeding. Die nuwe wetsontwerp verwyder solatium, stroomlyn die onteieningsproses vir die regering ten koste van privaat eienaars en laat die regering selfs toe om eiendom sonder vergoeding te konfiskeer,” het Van Staden betoog. “Die wetsontwerp kan geensins as billik of grondwetlik beskryf word nie.”

Sakeliga oorweeg verdere stappe om die verduistering van negatiewe ekonomiese werklikhede aan die hand van die sogenaamde ‘studie’ aan te spreek.

Die volledige SEIA kan by hierdie skakel gevind word.

Argiewe