Sakeliga ondersoek verval by 154 probleem-munisipaliteite, oorweeg verdere litigasie

Prokureurs vir Sakeliga is opdrag gegee om ‘n versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Ouditeur-Generaal te lewer, ten einde spesifieke bestuursverslae te bekom wat glo na afhandeling van die staatsouditeur se jaarlikse oudit, aan die onderskeie munisipaliteite se bestuurspanne voorgelê word. Die bestuursverslae word by die Ouditeur-Generaal aangevra ten opsigte van 154 probleem-munisipaliteite landswyd waar daar ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie is. Sakeliga wil hierdie verslae ontleed ten einde langtermyn-strategieë te verfyn vir sake-selfstandigheid te midde van staatsverval op munisipale vlak.

Ouditeur-Generaal se bestuursverslae

Die Ouditeur-Generaal se bestuursverslae ten opsigte van spesifieke munisipaliteite is nie algemeen beskikbaar nie, en word nie deur die Ouditeur-Generaal gepubliseer saam met die jaarlikse ouditverslae nie. Die bestuursverslae deur Sakeliga versoek handel met korrupsie by spesifieke munisipaliteite, asook finansiële- en bestuursgebreke wat deur die ouditspanne opgemerk is, waar die jaarlikse ouditverslae van die Ouditeur-Generaal, wat algemeen beskikbaar is vir die publiek, grootliks opsommend en formeel is.

Sakeliga meen derhalwe dat die inligting in die bestuursverslae vervat van groot waarde vir gemeenskappe is wat presies wil weet hoe en waar hul belastinggeld verkwis of gesteel word, en wat aan die wortel van diensleweringsprobleme lê.

Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit

Sakeliga se versoek vir toegang tot die bestuursverslae by die 154 probleem-munisipaliteite volg op die ontvangs van dergelike bestuursverslae oor die laaste vyf jaar van die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (wat die dorpe van Koster, Swartruggens, en Derby diens). Die bestuursverslae sit korrupsie, verval en finansiële krisis by die munisipaliteit in besonderhede uiteen. Die laasgenoemde rekords – ook kragtens PAIA versoek – is aanvanklik weerhou, maar aan Sakeliga gelewer ná ‘n hofbevel in Februarie verlede jaar en daaropvolgende dreigement van ‘n minagtingsaansoek by die Hooggeregshof.

Tendense om hofbevele te weier

Benewens kommerwekkende besonderhede oor korrupsie en diensleweringsgebreke in die rekords wat uiteindelik deur Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit aan Sakeliga voorsien is, merk Sakeliga ook ‘n toenemend tendens onder vervalle munisipaliteite op om bloot hofbevele te ignoreer. In menige gevalle moet alle moontlike regstappe, insluitend minagtingsaansoeke weens weiering om aan hofbevele gehoor te gee, gevolg word om munisipaliteite se voldoening aan hofbevele te verseker. Dit beteken dat die publiek verskeie uitgawes moet aangaan om nie net munisipaliteite te dwing om hul eie wetgewing te gehoorsaam nie, maar ook munisipaliteite te dwing om aan hofbevele gehoor te gee wat voldoening aan munisipale en ander wetgewing gelas.

In die geval van Kgetelengrivier het Sakeliga byvoorbeeld reeds op 25 Februarie 2021 ‘n bevel in die Noord-Wes Afdeling van die Hooggeregshof, Mahikeng, teen die munisipale bestuurder van Kgetlengrivier bekom, wat die munisipaliteit verplig om aan ‘n rekordversoek wat al in Desember 2020 kragtens PAIA ingedien is, gehoor te gee. Sakeliga is later genoodsaak om die hof te nader nadat die aansoek vir maande lank onbeantwoord gelaat is. Maande nadat die hofbevel in Sakeliga se guns gelewer is, het die munisipaliteit steeds in gebreke gebly om daaraan te voldoen of selfs korrespondensie daaroor te beantwoord. Die munisipaliteit het eers op 7 Desember 2021 – meer as ‘n jaar nadat die aanvanklike versoek vir rekords afgestuur is – en nadat Sakeliga op die drempel was om die munisipale bestuurder om minagting van die hof aan te kla, aan die bevel voldoen.

Die pad vorentoe

Die verval in verskeie plaaslike munisipaliteite het probleme met dienslewering en administrasie verbygesteek, en strek nou so ver as nie-deelname aan die regsproses en geykte meganismes vir geregtelike oorsig en legaliteit.


Verdere regstappe sal na ontvangs van die bestuursverslae van die 154 probleem-munisipaliteite oorweeg word. Intussen konsulteer Sakeliga ook verder met sy regspan oor die bestuursverslae wat uiteindelik vanaf die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit bekom is, met die oog daarop om verkwisting en verval in Koster, Derby, en Swartruggens onder bedwang te bring.

Sakeliga is reeds besig met ‘n sogenaamde betaalmeester-hofsaak in Ditsobotla- en Naledi munisipaliteite van Noord-Wes om ‘n onafhanklike spesiale betaalmeester deur die hof te laat aanstel om kritieke aspekte van hierdie munisipaliteite se finansiële administrasie te bestuur sodat dienslewering kan plaasvind. Lees meer daaroor hier.

Uitgereik deur:

Tian Alberts
Regs- en skakelbeampte, Sakeliga

[email protected]

Archives