Sakeliga nooi ondernemings om belemmering oor reis, lisensies en permitte aan te meld 

blur_brass_closed_gate_gateway_lock_locked_padlock-1514927

Wat Sakeliga-hofuitspraak in praktyk vir besighede beteken

Sakeliga se hofgeding teen besigheidslisensiëring was ’n oorwinning vir sakevryheid in Suid-Afrika. Danksy Maandag se uitspraak en hervorming op die laaste nipper deur ’n regering onder litigasiedruk is ondernemings nou weer vry om sake sonder voorafgoedkeuring deur die regering te doen.

As gevolg van Sakeliga se hofoorwinning Maandag, en met die begin van inperkingsvlak 3, mag geen permitte, lisensies of sertifikate ingevolge die regulasies kragtens die Wet op Rampbestuur meer van sakeondernemings of hulle werknemers vereis word nie.

Ongelukkig bly sekere tipes sakebedrywighede nog verbode, hoewel dit streng beperk is tot wat in vlak 3-regulasies uiteengesit word.

Hierdie mediaverklaring bied ’n uiteensetting van die regte van ondernemings en die enkele oorblywende reguleringsvereistes.

Onwettig vir wetstoepassers om permitte te vereis, boetes op te lê, of sakebedrywighede te belemmer 

Volgens advies van ons regspan kan alle ondernemings, werknemers en kontrakteurs wat toegelaat word om te werk, permitloos vir werkdoeleindes reis, met uitsondering van beweging tussen munisipale of provinsiale gebiede (kyk hieronder).

Die vryheid om te beweeg en handel te dryf in die distrik waar ’n persoon woon bestaan ongeag of daar ’n selfuitgereikte permit (die sogenaamde Vorm 2-permit kragtens die regulasies) of ’n staatsuitgereikte permit (soos die CIPC-sertifikaat, wat nou gestaak is) uitgereik sou wees. Gevolglik sou dit onwettig wees vir ’n wetstoepassingsbeampte om die volgende teenoor ’n sakeonderneming, werknemer, of kontrakteur te doen:

  1. Aandring op ’n permit of lisensie rakende die inperking.
  2. Aandring op ’n CIPC-sertifikaat.
  3. Iemand in hegtenis neem of verhinder of op enige manier inmeng in sakebedrywighede omdat so iemand nie ’n permit, lisensie of sertifikaat rakende die inperking het nie.
  4. Enige boetes oplê vir reis of handeldryf sonder permitte, lisensies of sertifikate rakende die inperking.

Een uitsondering: Beweging tussen distrikte 

Ons is meegedeel dat daar net een situasie is waar wetstoepassingsbeamptes ’n sakeonderneming se selfuitgereikte Vorm 2-permit mag vereis: in die geval van reis tussen provinsies, metropolitaanse gebiede en munisipaliteite, by die punt waar sulke distriksgrense oorgesteek word.

Geen ander permitte vir sakeverwante doeleindes op vlak 3 van die ramptoestand mag as deel van die regering se rampbestuurmaatreëls vereis word nie.

Gevolge as iemand ‘n grens oorsteek sonder ‘n permit 

Hoewel dit ingevolge die vlak 3-regulasies steeds ’n verbode aktiwiteit is, is die versuim om ’n Vorm 2-permit te hê of te toon wanneer ’n distriksgrens oorgesteek word, nie ingevolge die regulasies tot ’n strafregtelike misdryf verklaar nie.

Omdat dit nie ’n misdryf is nie, mag wetstoepassers net optree om die ongeoorloofde oorsteek van grense te voorkom, en niks meer nie. Geen boetes in verband daarmee mag deur enige wetstoepassingsbeampte opgelê word nie en niemand mag in hegtenis geneem word nie.

Let egter op dat wetstoepassers wel daarop geregtig is om op nakoming van die regulasies aan te dring. In dié verband kan verontagsaming van ’n wettige opdrag om aan die regulasies te voldoen, egter dwarsboming van die gereg wees, wat ’n misdryf is waarvoor die persoon in hegtenis geneem kan word. Ons is geadviseer dat ’n wettige opdrag in hierdie omstandighede net ’n opdrag kan wees om nie die distriksgrens oor te steek nie.

Omvattende lys misdrywe 

Sakeliga se regsadviseurs het ’n omvattende lys opgestel van wat ingevolge die inperkingsregulasies op vlak 3 misdrywe daarstel. Met uitsondering van die items op hierdie lys kan wetstoepassingsbeamptes nie wettig op iemand se vryhede inbreuk maak nie tensy hulle spesifieke verbodsbepalings ingevolge die inperkingsregulasies toepas.

Die lys kan hier gesien word.

Uitnodiging om oortreding van die voorgaande aan te meld 

Sakeliga nooi sakeondernemings wat belemmering ten opsigte die voorgaande ondervind het – soos die oplê van boetes, inhegtenisneming, of om permitte, sertifikate of lisensies te vereis – om dit by ons hulplyn aan te meld. Aanmelding kan gedoen word by [email protected].

Archives