Sakeliga moedig lede aan om Woensdag restaurante te ondersteun 

thomas-lefebvre-gp8BLyaTaA0-unsplash

Die selfstandige sakegroep Sakeliga moedig sy lede aan om op Woensdag, 22 Julie, restaurante en koffiewinkels te ondersteun as deel van die Restaurant Association (RASA) se Million Seats on the Streets-veldtog. Die grendelstaat kos hierdie industrie reeds soveel as R7 miljard per maand, oftewel sy totale omset.

Na maande se onnodig skadelike, buitensporige en impulsiewe regulasies, is verskeie industrieë op hul knieë. In besonder het die kleinhandel-, voedsel- en drankindustrie die totale ineenstorting van sy omset van bykans R7 miljard per maand, wat dit in April sou wees, tot minder as R1 miljard ervaar. Restaurante en koffiewinkels, ‘n beduidende onderafdeling van dié industrie, se omset het van meer as R4 miljard tot nul in April gedaal, volgens voorlopige statistieke van Stats SA wat Maandag uitgereik is.

“Ons moedig alle sakepersone aan om op Woensdag 22 Julie ‘n drankie of ete by restaurante en koffiewinkels te koop en te geniet. Ons moedig hulle aan om ‘n foto te neem en dit op sosiale media te plaas, met kommentaar oor die grendelstaatregulasies en die impak daarvan, of wenke oor hoe om skadelike regulasies teë te werk”, sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

RASA se Million Seats on the Streets-veldtog behels dat restaurante en koffiewinkels regoor die land hul tafels buite en selfs in strate sal plaas, of andersins sal demonstreer, om teen die onaanvaarbare skade wat deur die regering se Covid19-regulasies aan die industrie aangerig is, te demonstreer.

“Wat die regulasies veral onaanvaarbaar maak, is die onnodige skade aan lewens en lewensbestaan. Dieselfde gesondheidsvoordele sou verkry kon word deur meer sinvolle beleide, maar met ten minste ‘n orde van grootte minder ekonomiese skade”, sê Le Roux.

Le Roux beklemtoon dat demonstrasies op ‘n manier behoort te geskied wat nie ander besighede of persone benadeel nie: “Ons benut die geleentheid om restaurateurs, koffiewinkeleienaars en alle ondersteuners van Woensdag se betogings te versoek om te verseker dat geen toegangsroetes volledig afgesper word nie en dat geen persone of privaat besighede belemmer of benadeel word nie. Reg en orde, persoonlike gesondheid en veiligheid, sowel as die lewensvatbaarheid van ander ondernemings wat ook onder geweldige druk is, moet gekoester en beskerm word”.

Archives