Sakeliga liasseer stukke in opspraakwekkende BEE en verkrygingsaak

BEE

Die sakegroep Sakeliga liasseer volgende week stukke by die Konstitusionele Hof in die mees opspraakwekkende BEE en verkrygingshofsaak tot nog toe.

Ná regspraak in Sakeliga se guns in November 2020, word die saak nou – ook op aandrang van ANC-sekretarisgenaraal Ace Magashule – deur die Minister van Finansies op appèl geneem.

Sakeliga sal egter vra dat die Konstitusionele Hof die Hoogste Hof van Appèl (HHA) se bevel ten gunste van Sakeliga – wat ‘n groot slag teen BEE en tenderkorrupsie was – handhaaf. Die HHA het verlede jaar bevind dat die staat se verkrygingsregulasies “ongeldig en ongrondwetlik” is. Sakeliga sal ook vra dat die hof bevestig dat voormalige Minister van Finansies Pravin Gordhan buite magte opgetree het toe hy in 2017 die betrokke regulasies uitgevaardig het, aangesien die PPPFA-wetgewing en die Grondwet nie vir sulke rasgebaseerde uitsluiting voorsiening maak nie.

“Die 2017-PPPFA-regulasies het, sonder die parlement se toestemming, ‘n nuwe era in rasgebaseerde verkryging, wat op geen wyse die openbare belang dien nie, ingelui, ” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Ná die uitspraak in 2020 het verskeie organisasies, insluitende die ANC, daarop aangedring dat die Minister van Finansies die saak op op appèl neem. By monde van Mnr. Magashule het die ANC beswaar gemaak teen Le Roux se beskrywing van die uitspraak as ‘n belangrike stap in die regte rigting, en in teendeel aangedring dat rasgebaseerde voorvereistes weer ingestel behoort te word.

“Tot vóór hierdie regulasies kon tenderaars slegs ‘n sekere persentasie (tot 20%) van hul tenderpunte verloor indien hulle nie aan BEE-vereistes voldoen het nie. Sedert die regulasies het staatsorgane egter voorkwalifiseringskriteria gestel, wat potensiële tenderaars nie net punte laat verloor het nie, maar by voorbaat heeltemal van tenderprosesse uitgesluit het. Die slagoffers hiervan was nie net die tenderaars nie, maar uiteindelik die publiek, omdat die poel van kwalifiserende tenders kunsmatig verklein is deur duisende maatskappye en sakelui, wat waarde sou kon toevoeg, op grond van ras die deur te wys.

“Daar sal geen sprake van gesonde, korrupsievrye sake-omgewings wees waar munisipaliteite en ander staatsorgane groot groepe kontrakteurs vooraf by tenderprosesse uitsluit, sonder om eens na die meriete van hul tender te kyk nie,” sê Le Roux.

Sakeliga sal volgende week die hoofde van betoog by die Konstitusionele Hof liasseer ter opponering van die Minister se appèl. Die saak is vir die 25ste Mei ter rolle geplaas, en sal dan aangehoor word. Sakeliga het die saak verlede jaar met ‘n gunstige kostebevel gewen.

Archives