Sakeliga kry bevestiging van grondwetlike versuim by Nasionale Rampbestuursentrum

law

Sakeliga het ’n brief van die Nasionale Rampbestuursentrum (NRBS) ontvang wat bewys dat die huidige Nasionale Ramptoestand op ongrondwetlike wyse gehandhaaf word.

Die brief, deur dr Mmaphaka Tau, hoof van die NRBS, bevat uitgebreide erkennings dat die NRBS nie sy oorspronklike klassifikasie op 15 Maart 2020 van Covid-19 as ’n “nasionale ramp” onafhanklik heroorweeg het nie en selfs weier om dit te doen.

Die belangrikheid van die klassifikasie as sodanig lê in die feit dat, ingevolge die Wet op Rampbestuur (WRB), ’n Nasionale Ramptoestand deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake verklaar kan word slegs op grond van ’n vorige en bestaande klassifikasie van ’n nasionale ramp deur die NRBS. Hierdie klassifikasie moet nie net onafhanklik gedoen word nie maar moet ook deurlopend herevalueer word. Slegs nadat en vir solank as wat die hoof van die NRBS ’n gebeurtenis as ’n ramp geklassifiseer het, kan die Minister ‘n Nasionale Ramptoestand verklaar en handhaaf.

Die WRB se bepalings oor klassifikasie dien ’n belangrike konstitusionele doel. Dit kontroleer die uitvoerende gesag deur skeiding te bring tussen die objektiewe evaluering van ’n negatiewe gebeurtenis, as synde ’n ramp al dan nie, en die uitvoerende stap om ’n Nasionale Ramptoestand te verklaar, ingevolge waarvan die Minister sedert 2020 buitengewone uitvoerende mag verkry het. Hierdie plig word ook deur die Grondwet gesteun, wat vereis dat alle openbare ampsbekleërs, soos dr Tau, hulle bevoegdhede moet aanwend om die publiek se grondwetlike regte te beskerm en te bevorder.

Strydig met sy pligte ingevolge die WRB en die Grondwet erken dr Tau egter nou dat hy die besluit, om sy oorspronklike klassifikasie te handhaaf of te herevalueer, van die Kabinet en die Minister laat afhang in plaas daarvan om onafhanklike oordeel op grond van objektiewe kriteria toe te pas.

Voorts voer dr Tau ’n sirkelargument, want hy verklaar dat hy nie die rampklassifikasie sal herevalueer nie as gevolg van ’n Kabinetsbesluit om die Nasionale Ramptoestand te verleng. Maar die Kabinet, deur die Minister, moet hom in die eerste plek tog op die NRBS se klassifikasie verlaat alvorens hy die Nasionale Ramptoestand kan verleng. Dit is die Kabinet wat op die NRBS se besluit moet staatmaak, nie die NRBS op die Kabinet s’n nie.

Dr Tau se erkenning is bewys van ongrondwetlikheid in ten minste een van twee opsigte: dit kom neer op óf ongrondwetlike pligsversuim deur dr Tau, óf ongrondwetlikheid van die Wet op Rampbestuur self. In albei gevalle is die ongrondwetlikheid te vinde in versuim om onafhanklike toesig oor die uitvoerende gesag toe te pas, en daardeur versuim om grondwetlike regte te beskerm. Dr Tau se brief toon dat die NRBS nie as ’n objektiewe rem op die uitvoerende gesag optree nie, homself as ’n agent van die uitvoerende gesag beskou, nie ’n proses ingestel het om sy twee jaar oue klassifikasie van ‘n “nasionale ramp” deurlopend te herevalueer nie, en strydig met óf die WRB óf die Grondwet of albei optree.

Ooreenkomstig sy verklaring van 20 Januarie het Sakeliga sy regspan opdrag gegee om die Hooggeregshof te nader vir die tersydestelling van die klassifikasie van COVID-19 as ’n nasionale ramp en vir verdere grondwetlike regshulp.

Klik hier vir dr Tau se brief, deur Sakeliga ontvang op 3 Februarie 2022.

Klik hier vir Sakeliga se verklaring op 20 Januarie 2022 insake ons skrywe aan Dr Tau.

Archives