Sakeliga kan nou NW munisipale bestuurder strafregtelik tot verantwoording roep

Sakeliga oorweeg om die Hooggeregshof in Mahikeng te nader vir ‘n bevel dat die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit in Noord-Wes, in minagting van die hof verkeer en na gelang van die hof se diskresie tronkstraf óf ‘n boete óf albei opgelê moet word.  

Hierdie stappe word oorweeg aangesien Kgetlengrivier-munisipaliteit reeds vir meer as vyf maande in minagting van ‘n hofbevel verkeer. Volgens die hofbevel moet sekere rekords wat met dienslewering en finansies van die munisipaliteit verband hou, aan Sakeliga oorhandig word. Sakeliga het reeds verlede jaar hierdie rekords kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) versoek. Die versoek is nooit geantwoord nie, en Sakeliga het daarin geslaag om die hof te nader vir ‘n bevel om die munisipaliteit te verplig om die rekords te oorhandig. Die bevel is reeds op 1 Maart 2021 gemaak.  Daarvolgens is die munisipale bestuurder van Kgetlengrivier-munisipaliteit 60 dae verleen om die tersaaklike rekords te voorsien. Die rekords is nooit voorsien nie. 

Sakeliga gee gevolglik nou die munisipale bestuurder tot 18 November 2021 om die rekords ooreenkomstig die hofbevel te oorhandig. 

 Daar is geen rede waarom Sakeliga ‘n staatsorgaan behoort te dwing om aan ‘n hofbevel gehoor te gee nie. Oor meer as ‘n jaar se versuim en ook minagting van ‘n hofbevel om eenvoudige rekords te oorhandig waaroor enige munisipaliteit wetlik behoort te beskik en vir die publiek beskikbaar moet stel, is daar slegs ‘n paar ooglopend afleidings wat Sakeliga kan maak. Naamlik, dat die Kgetlengrivier-munisipaliteit tot so ‘n mate verval het dat dit nie die vermoë het om basiese rekords beskikbaar te stel nie, of dat daardie rekords nie bestaan nie, of dat die rekords so inkriminerend is dat die munisipaliteit dit eerder sal weerhou selfs in weerwil van ‘n hofbevel. 

Die munisipaliteit verkeer terselfdertyd in minagting van ‘n kostebevel wat in Sakeliga se guns gemaak is in verband met die PAIA-bevel op 1 Maart 2021, en intussen getakseer is. Weens die munisipaliteit se versuim of weiering om aan die bevel gehoor te gee of selfs net Sakeliga se aanmanings te antwoord, moes die balju van die hof hierdie week op van die munisipaliteit se bates beslag lê. 

Soos met Naledi en Ditsobotla munisipaliteite waar Sakeliga tans die hof vra om verpligte administrasie en ingryping deur ‘n onafhanklike betaalmeester te gelas, het die Kgetlengrivier-munisipaliteit klaarblyklik nie die vermoë om sy basiese wetlike pligte en selfs hofbevele na te kom nie. Hierdie mate van verval belemmer regspleging en plaaslike sakesekerheid. Sakeliga konsulteer daarom met sy regspan en ander rolspelers oor verdere moontlike strategiese stappe in Noord-Wes om blywende grondslag vir sake-selfstandigheid neer te lê. 

 

Uitgereik deur: Tian Alberts 
Regs- en skakelbeampte: Sakeliga 

 

Archives