Sakeliga-hofaansoek vir inperkingsrekords verder vertraag deur misbruik van hofreëls

pexels-sora-shimazaki-5668882

Sakeliga se versoek vir rekords van besluitneming oor inperkingsregulasies oor die laaste twee jaar word nou verder vertraag deur ‘n misbruik van hofreëls deur die regspan van Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Die mees onlangse vertragingstaktiek deur die Minister is ‘n kennisgewing van beswaar kragtens die hofreëls wat nie net onreëlmatig is nie, maar ook hoegenaamd nie toepaslik in die omstandighede is nie.  

Hierdie mees onlangse onreëlmatige stap volg op ‘n ander onreëlmatige kennisgewing van beswaar wat die Minister in Desember verlede jaar geliasseer het (lees meer hier), en wat intussen teruggetrek is toe Sakeliga die hof wou nader vir ‘n bevel om daardie beswaar ter syde te laat stel sodat die saak onverwyld kon voortgaan.  

In geheel beskou: 

  • Het Sakeliga sy versoek vir rekords so lank gelede as 15 Desember 2020 ingedien;
  • Is die hofsaak om die Minister (wat volstrek geweier het om enige rekords te lewer) te verplig om rekord te lewer op 17 Augustus 2021 van stapel gestuur, nadat ‘n interne appèl ook deur die Minister van die hand gewys is;
  • Was die Minister meer as 50 hofdae* laat met liassering van haar kennisgewing van opponering, en bly die Minister nou al reeds meer as 15 hofdae in gebreke om ‘n antwoordende eedsverklaring te liasseer;
  • Liasseer die Minister se regspan nou keer-op-keer onreëlmatige besware om die proses selfs nog verder te vertraag.

Sakeliga het nou geen ander keuse om ‘n beswaar van sy eie te liasseer ten opsigte van die Minister se mees onlangse kennisgewing van beswaar nie. Alhoewel die Minister se onreëlmatige vertragingstaktieke ongunstige koste-implikasies vir haar departement (by implikasie, die staatskas) kan inhou, is Sakeliga steeds uitgelewer aan die hofproses waarbinne onreëlmatige stappe verwerk en tersyde gestel moet word.  

Sakeliga glo dat die optrede van die Minister oor verloop van meer as ‘n jaar om haar rekords van belsuitneming oor inperkingsregulasies te weerhou ‘n sterk aanduiding is dat die rekords nie bestaan nie, of dat die rekords wat wel bestaan sal bevestig wat algemeen vermoed word – dat die meeste of alle inperkingsbesluite irrasioneel en deurspek met prosedurele onreëlmatigheid is.  

Hoe dit ookal sy, wil Sakeliga hierdie rekords van besluitneming (in sover dit wel bestaan) openbaar en ontleed sodat dit in die openbare debat en moontlik regsaksie gebruik kan word om die skade van inperkingsbesluite te beperk. Die rekords kan ook help om skadelike beleide stop te sit en toekomstige skade te verhoed – deur byvoorbeeld die ramptoestand in geheel te laat ophef in belang van terugkeer na kommersiële en sosiale normaliteit. In hierdie verband het Sakeliga op 12 Januarie 2022 ook aan Minister Dlamini-Zuma geskryf om aan te dring op die beëinding van die ramptoestand en verdere regstappe wat gevolg sal word indien die ramptoestand nie nou opgehef word nie. Lees meer daaroor hier. 
 

*’n “Hofdag” is enige dag wat nie ’n Saterdag, Sondag of openbare vakansiedag is nie. 

Uitgereik deur: 
Tian Alberts,  
Regs- en Skakelbeampte, Sakeliga 

 

Archives