Sakeliga gereed vir PPPFA-appèl

pexels-sora-shimazaki-5669619

Die sakegroep Sakeliga is gereed om enige appèl teen sy hofoorwinning oor BEE-gebaseerde vooraf-diskwalifikasie in verkrygingsregulasies (PPPFA) te verdedig. Dit volg na die ANC se verklaring die afgelope naweek, waarin hy sy misnoeë uitspreek en by monde van sy algemene sekretaris, Ace Magashule op ‘n appèl aandring.  

“Openbare dienslewering behoort te gaan oor uitkomste vir die publiek, nie oor inkomste vir diensverskaffers nie,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. “Met vooraf-diskwalifikasievereistes, op grond van politieke oorwegings in verkrygingsbeleid, ontsê mnr Magashule en die ANC ter wille van politieke oogmerke en voordele die publiek en eindgebruikers toegang tot die volle omvang kundigheid en waarde-vir-geld wat in die mark beskikbaar is. Hulle stuur ook ‘n skadelike boodskap na plaaslike en internasionale beleggers.”

Le Roux sê die verantwoordelike stap vir mnr Magashule en die ANC sou wees om die uitspraak te ondersteun, “naamlik dat ministers nie wetgewend mag optree nie, dat BEE of ander politieke vereistes nie as voorvereiste gestel mag word nie en dat elke tender op waarde-vir-geld beoordeel moet word. Die teenoorgestelde gebeur egter: hulle verdedig minsteriële oorskryding van magte en dring openlik aan op vooraf-diskwalifikasie. Trouens, hulle noem dit ‘a very critical BEE instrument,’ ongeag die ooglopende implikasies vir dienslewering en hoër pryse vir die staatskas.”

“Sakeliga sal skadelike beleid soos vooraf-diskwalifikasie op grond van BEE-vereistes nie aanvaar nie. Ons sal alle stappe, insluitende regsaksie, doen om die herinstelling daarvan te verhoed. Dit is tyd vir minder politiek, meer besigheid,” sê Le Roux.

Sakeliga verwelkom intussen die bevindings van ‘n navorsingsverslag van die EU-South Africa Partners for Growth Project. Luidens die verslag “EU Investors’ responses to Broad-Based Black Economic Empowerment” is BEE een van die grootste uitdagings vir buitelandse beleggers en is dit nodig om swart eienaarskapsvereistes af te skaal.  

Die jongste navorsingsverslag is een van vele, en sluit aan by skerp bevindinge teen BEE se eienaarskaps- en bestuursvereistes reeds in die 2007-verslag van die High Level Panel on Growth, nog byeengeroep deur president Thabo Mbeki. Die destydse verslag, opgestel deur internasionale ekonome soos Ricardo Hausmann en mede-paneellede insluitende Daron Acemoglu, noem BEE-eienaarskapsvereistes ’n “open-ended tax on existing and new capital.” Hulle waarsku ook teen die bestuursvereistes, en sê “it complicates the creation of new firms by demanding either equity or senior-management participation.”  

Le Roux sluit af: “Mnr Magashule en die ANC blameer Sakeliga vir die teenspoed wat BEE optel. Dit is waar dat ons ‘n groot rol daarin speel en sal bly speel, maar die rede vir BEE se teenspoed is dat dit ‘n mislukte beleid is. Swart Ekonomiese Bemagtiging word vandag algemeen onder buitelandse en binnelandse sakelui as een van die belangrikste struikelblokke vir besigheid binne Suid-Afrika beskou. Die publiek wantrou dit omdat hulle ervaar hoe dit dienslewering affekteer en sien hoe dit met korrupsie gepaardgaan. En werknemers uit alle gemeenskappe – insluitende swart persone – is moeg vir die gevolge wanneer hul maatskappye nie tenders kry nie net omdat daar uitsluitlik op die ras van eienaars gefokus word. In die belang van ‘n gunstige sakeomgewing en voorspoed in Suid-Afrika sal Sakeliga aanhou om BEE te bevraagteken.”

Archives