Sakeliga gereed vir litigasie oor gesondheidsregulasies

pexels-sora-shimazaki-5668473

Sakeliga het vandag vir president Cyril Ramaphosa en die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, in kennis gestel dat Sakeliga regstappe gaan neem om die gesondheidsregulasies wat verlede week gepubliseer is ter syde te laat stel, tensy die regulasies teen 18 Mei om 12:00 herroep word.

In ’n brief wat Sakeliga se prokureurs vandag gestuur het, word die President en minister Phaahla versoek om samesprekings met Sakeliga te voer of andersins die regulasies teen 12:00 op 18 Mei te herroep, by welke versuim  Sakeliga ‘n formele regsgeding aanhangig sal maak. In die brief word verskeie van Sakeliga se besware teen die regulasies uiteengesit.

Die brief wys daarop dat Sakeliga kennis geneem het van die hofaansoeke wat reeds deur ander organisasies, waaronder AfriForum en Solidariteit, ingestel is, waarin die dringende hersiening en tersydestelling van die regulasies versoek word. Hoewel die bestaande applikante se onderskeie standpunte oor die regulasies geringe verskille toon, is hierdie aansoeke goed gefundeer en sal die regulasies nie konstitusionele toetsing kan deurstaan nie. Indien die regulasies nie herroep word nie, sal Sakeliga se litigasie tot belangrike bykomende regsondersoeke oor die regulasies aanleiding gee, wat vir ons as ’n openbare weldaadsakeorganisasie van besondere belang is.

Hierdie bykomende ondersoeke sluit Sakeliga se standpunt in dat die regulasies maatskaplike stabiliteit en samehorigheid onder beleg bring. Dit, afgesien van die skade wat veroorsaak word deur spesifieke bepalings rakende die dra van maskers, inperking van byeenkomste en dies meer. Elemente van die georganiseerde samelewing word omskep in uitvoerende agente van die staat deurdat die regulasies verantwoordelikheid vir die afdwing van die regulasies afwentel na organisasies in die burgerlike samelewing soos sakeondernemings, kerke en ander godsdiensgroepe, opvoedkundige instellings en dies meer. Afgesien van die konstitusionele ontoelaatbaarheid van hierdie verwikkeling hou dit die gevolg in dat daar ’n groot wig ingedryf word tussen enersyds die publiek wat die regulasies op een of ander wyse  verwerp, en andersyds die organisasies waaruit die georganiseerde samelewing bestaan en wat nou die regulasies moet afdwing. In die geval van sakeondernemings is die risiko besonder groot, weens die frekwensie en skaal waarop hulle slagoffers van misdaad word en tydens maatskaplike onrus geteiken word. Die verswakking van die burgerlike samewerking wat hierdie regulasies tot gevolg kan hê, sal weer lei tot ’n strukturele verhoging in die bedryfskoste van ’n georganiseerde burgerlike samelewing in Suid-Afrika, wat die doen van sake insluit. Die gevolge hiervan sal strek tot blywende skade aan die openbare welstand.

Archives