Sakeliga eis dat die regering sy feite rakende Onteieningswetsontwerp- studie uitklaar

National Assembly of South Africa

Die sakegroep Sakeliga doen ‘n beroep op die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om sy beweerde sosio-ekonomiese impakstudie (SEIS) oor die Onteieningswetsontwerp terug te trek en om verskoning te vra vir die nalatige wanvoorstelling van die perspektiewe van burgerlike organisasies op die wetsontwerp. 

Sakeliga eis voorts dat die regering in toekomstige impakstudies kennis neem van die ernstige kommer wat die burgerlike samelewing opper oor die nadelige en onbeplande gevolge van swak beleidsbesluite. 

Verskeie groepe en burgers het, terwyl hulle met die regering gekonsulteer het oor die Wetsontwerp op Onteiening, gewys op die potensiaal van ekonomiese katastrofe indien die wetsontwerp, saam met die grondwetwysiging om konfiskering sonder vergoeding moontlik te maak, aanvaar sou word. Nie een van hierdie bekommernisse is in die SEIS opgeteken nie en in gevalle waar die SEIS wel besorgdheid opgemerk het, is dit eenvoudig van die hand gewys sonder eerlike konsultasie of redelike, onafhanklike ontleding. 

As gevolg van hierdie wesenlike gebreke word die geldigheid van die raadplegingsproses en die advies wat aan die Kabinet gegee is op grond van die SEIS bevraagteken. 

Sakeliga het die parlementêre voorleggings van verskeie van die organisasies wat deur die SEIS genoem en  geag word as ondersteuners van die Wetsontwerp op Onteiening nagegaan.  

“Dit is duidelik”, volgens Martin van Staden, Regsgenoot by Sakeliga, “dat die beoordeling ‘n growwe wanvoorstelling van die standpunte van die burgerlike samelewing bevat. Baie van die groepe wat volgens die studie die wetsontwerp ondersteun, steun eintlik nie die wetsontwerp nie.” 

Een genoemde organisasie, Agri Suid-Afrika, het reeds duidelik gemaak dat hy nie die Wetsontwerp op Onteiening steun nie, ondanks die regering se opinie dat dit wel die geval is. 

Die indruk wat die regering klaarblyklik hoop om te skep met die SEIS, wat deur die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, die Departement van Beplanning, Monitering, en Evaluering, en die Presidensie goedgekeur is, is dat die wetsontwerp wyd ondersteun word. Die regering hoop om hierdie nie-bestaande “steun” te gebruik om besorgde beleggers, buitelandse regerings, en skeptiese burgers gerus te stel. Trouens, slegs regeringsdepartemente en burgerlike groepe wat saamstem met die ideologiese oortuigings van die regerende party, was eksplisiet oor hul goedkeuring van die Wetsontwerp op Onteiening. 

Volgens Gerhard van Onselen, Senior Ontleder by Sakeliga is beslaglegging op eiendom ‘n skadelike beleid. “Deur middel van die wetsontwerp is die regering van plan om beslag te lê op eiendom van sommiges om dit vermoedelik aan ander te gee, of te beheer deur staatsvoogdydskap. Sodoende kan geselekteerde begunstigdes wel eiendom verkry, maar almal kan ly onder die nadelige en verarmende effek wat ‘n algemene aanslag op eiendomsekerheid sal meebring. Om ‘n ‘netto-effek’ te oorweeg, moet die regering sy evaluering van vermeende voordele en veral die skade van hierdie beleid nugter heroorweeg, verkieslik in ‘n heraangestelde, onafhanklike en deeglike SEIS.” 

Sakeliga het onlangs die SEIS aan die lig gebring deur middel van ‘n Promotion of Access to Information Act (PAIA) versoek aan die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur. Die SEIS is nie vooraf deur die burgerlike samelewing of deur die publiek gesien nie. Meer inligting oor Sakeliga se inisiatief kan hier gevind word. 

Archives