Sakeliga dringend hof toe oor gesondheidsregulasies

pexels-sora-shimazaki-5668882

Sakeliga het gister hofstukke beteken aan die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, President Cyril Ramaphosa en andere. Sakeliga vra die hof om die gesondheidsregulasies wat Minister Phaahla op 4 Mei 2022 oornag gepromulgeer het, onwettig en ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel.

Sakeliga se aansoek verskil van bestaande litigasie en plaas verdere noodsaaklike argumente voor die hof. Sakeliga voer aan dat die regulasies sowel substantief as prosedureel irrasioneel is. Belangrike ander argumente sluit in dat die regulasies nie geldige gesondheidswetoogmerke dien nie, maar op onwettige wyse ander oogmerke probeer bereik, onder meer:

  1. Om die ‘tydelike’ reëls en regulasies van die nasionale ramptoestand te handhaaf sonder dat daar so ‘n toestand ingevolge die Wet op Rampbestuur is;
  2. Om ‘n onvanpaste en konstitusionele ontoelaatbare openbare gesondheid ‘containment’-strategie vir Covid-19 te volg;
  3. Om ‘n verskuilde inentingsverpligting in te stel deur só erg inbreuk te maak op mense se regte en vryhede, dat diegene, wat nie ingeënt is nie of dalk nie bepaalde opvolgdosisse ontvang het nie, teen hul wil ‘n inenting of opvolgdosis neem; en
  4. Om met kriminele strafmaatreëls besighede, kerke, skole, ekspo’s, stadions en ander entiteite in die burgerlike samelewing te dwing om mense in klasse op grond van inentingstatus te verdeel en tussen hulle te diskrimineer.

Die staat het oor die afgelope twee jaar gereeld magte vir homself toegeëien waarvoor daar nie in wetgewing voorsiening gemaak word nie en wat buitendien, op die wyses waarop dit uitgeoefen word, onbestaanbaar is met die standaard vir staatsoptrede wat deur konstitusionalisme vereis word. Minister Phaahla se mees onlangse regulasies van 4 Mei, kragtens die Nasionale Gesondheidswet gemaak, lyf egter ‘n nuwe tydvak van staatsinmenging en gesondheidsmonitering in.

Sakeliga staan die regulasies onder ander teen omdat dit skadelik vir die openbare welsyn van die samelewing is op ekonomiese en maatskaplike vlak. Dit dryf boonop ‘n wig in tussen enersyds besighede, kerke, opvoedkundige en ander instellings van die georganiseerde samelewing, en andersyds die publiek. Besighede en ander instellings van die georganiseerde samelewing kan en mag nie deur die staat geïnstrumentaliseer word om sulke ingrepe namens die staat te onderneem nie.

Sakeliga neem kennis van etlike verdienstelike ander hofaansoeke teen die nuwe gesondheidsregulasies, soos onder meer reeds deur AfriForum en DearSA, en Solidariteit gebring is.

Sakeliga se dringende hofaansoek teen die Minister volg nadat ons op 13 Mei aan die President en Minister geskryf het en daarop gewys het dat Minister Phaahla se mees onlangse regulasies onwettig en ongrondwetlik is. Sakeliga se eise dat die regulasies teen 18 Mei herroep moes word, is onbeantwoord gelaat.

Laai Sakeliga se hofstukke hier af.

Archives