Sakeliga doen beroep op ondernemings om skadelike staatsinmenging te verreken

“Die regering geniet nie sakelui se ondersteuning vir meer van dieselfde nie, nie soos wat vanaand in die toespraak van President Cyril Ramaphosa vervat is nie. Dit is daarom noodsaaklik en te verwagte dat in die komende maande en jare ondernemings self van ekonomiese koers sal verander. Ondernemings sal werk aan planne en strategieë wat skadelike staatsinmenging en staatsverval verreken, ten einde volhoubaarheid te verseker, ten spyte van ‘n voortdurend sentraliserende politieke elite,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeorganisasie, Sakeliga. 

“Wanneer bykans alles waarvoor ‘n regering verantwoordelikheid in ‘n land wil aanvaar verkeerd loop, is dit tyd vir daardie regering om van koers te verander, nie om sy bestaande pogings te verskerp nie. ‘n Mens sou dink dat, na die lysing van soveel aspekte van ‘n land se benarde toestand, ‘n regering sou aankondig dat ten minste die tydlyne van sy intervensionistiese beleide en die beginsels van sy grendelstaatstrategie hersien word. Tog het ons vanaand die teenoorgestelde gehoor, in nog een van die toesprake waarin president Ramaphosa voorskrifte ‘met onmiddellike effek’ na sowat 60 miljoen mense uitsaai,” sê Le Roux. 

“Vanuit ‘n regeringsperspektief, wanneer ‘n ekonomie nie langer bepaalde regeringsintervensies kan bekostig nie, dan is dit tyd om daardie ekonomie en mense se inkomste te laat herstel – nie om ‘n ongekende, afhanklikheidsvormende en onvolhoubare staatswelsynsuitbreiding aan te kondig nie. In plaas daarvan om bloot een of twee belastings vir drie maande uit te stel, sou hierdie ‘n uitstekende geleentheid vir ‘n regering gewees het om ook, ‘met onmiddellike effek,’ verskeie van sy vernaamste intervensionistiese beleide uit te stel,” sê Le Roux. 

Le Roux sê die oorsprong van die huidige krisis strek verder as die grendelstaat terug, “maar die regering se hantering van sake in die laaste maande het jarelange skadelike beleide versnel en verhewig. Vir die regering om tot dieselfde beleide, as wat die krisis onderlê, verbind te bly, is om te beloof om ons verder te neem op ‘n weg wat vir besighede in hierdie land onaanvaarbaar is. Onder sulke omstandighede sal ekonomiese herstel nieteenstaande die staat moet geskied.” 

Archives