Sakeliga behaal eerste groot Grondwethof-terugrol van BEE

5-1024x1024

Ras-gebaseerde voorafdiskwalifikasie van kontrakteurs moet onmiddellik stop

Sakeliga het vandag die eerste omvattende terugrol van BEE deur litigasie behaal. Staatsorgane behoort onmiddellik die toepassing van BEE-vooraf-diskwalifikasie van kontrakteurs in tender-prosesse te staak. Versuim om van hierdie en ander gebruike wat op onregmatige verkrygingsergulasies berus af te sien sal enige tender wat ’n staatsentiteit toeken aan geregtelike hersiening en litigasie blootstel.

Dit is die implikasie van die Grondwethofuitspraak wat vandag in die guns van Sakeliga en teen die Minister van Finansies gelewer is, insake die 2017 Voorkeurverkrygingsregulasies (PPPFA). Die Grondwethof het vir Sakeliga bevind dat die Minister van Finansies, destyds Pravin Gordhan, ultra vires opgetree het, deur te reguleer asof hy wetgewende bevoegdheid gehad het. Die oorwinning volg op Sakeliga se vroeëre sukses in die aangeleentheid voor die Hoogste Hof van Appèl.

Die 2017 Verkrygingsregulasies het ’n waterskeiding in verkryging en BEE in Suid-Afrika beteken. Vóór 2017 kon maatskappye wat vir die staat getender het op die meeste 10% tot 20% gepenaliseer word indien hulle nie aan BEE-vereistes voldoen het nie. Dit was skadelik genoeg. Sedert die 2017-regulasies het staatsorgane egter veel verder gegaan: tendervereistes het begin om maatskappye by voorbaat uit te sluit, op grond van BEE-kriteria soos indien ’n maatskappy byvoorbeeld nie 100% in swart besit was nie. Wat nou gebeur het is dat die hof die Minister van Finansies se vooraf-diskwalifikasieregulasies ongeldig en ongrondwetlik bevind het.

Staatsorgane mag nou nie meer die onwettige dele van die 2017-regulasies in hul verkrygingsbeleide volg of beliggaam nie. Dit is ongeldig en ongrondwetlik vir hulle om swart ekonomiese bemagtiging vooraf-diskwalifikasiekriteria by tenders vir openbare verkryging toe te pas.

BEE-gebaseerde vooraf-diskwalifikasie ingevolge die 2017-regulasies het die publiek baie gekos. Dit het op kunsmatige wyse die poel van diensverskaffers waaruit nasionale en plaaslike regering en staatsondernemings kon kies drasties ingeperk. Deur die publiek die volle omvang van mededingende aanbiedinge in die mark te ontsê het die regulasies bygedra tot oorbesteding, vertragings, en diensleweringsprobleme wat strek van mega-ondernemings in staatsbesit, soos Eskom, tot die kleinste van wanfunksionele munisipaliteite.

Die pad vorentoe

So veel as wat Sakeliga die uitspraak verwelkom, wil ons beklemtoon dat baie nog gedoen moet word om die beleid van BEE te beëindig. BEE skep die skyn van regstelling en bemagtiging, maar dit is inderwaarheid ’n uitgebreide kaping van die ekonomie deur politici, met voorspelbaar rampspoedige gevolge vir die publiek. Dit is ’n stelsel van besigheid onder aanvoering van politici in plaas van entrepreneurs. Dit laai laag-op-laag van ekstra koste op besigheid in Suid-Afrika en belemmer ware waardeskepping tussen mense oor die grense van verskillende rasgroepe en gemeenskappe heen. Dit is grondliggend ontmagtigend en skep en onderhou ’n kunsmatige skeiding tussen entrepreneurs wat andersins juis met mekaar wil saamwerk.

Sakeliga sal sy litigasie en inisiatiewe insake BEE in die komende maande en jare uitbrei, in die belang van ’n florerende ekonomie en samelewing.

Nota vir doeleindes van duidelikheid aan lesers van die uitspraak: Die meerderheidsuitspraak, wat met koste in Sakeliga se guns bevind, kan vanaf paragraaf 96 gevind word, ná die minderheidsuitspraak, wat eerste verskyn.

Archives