Sakeliga begin hofsaak wat munisipale verval landswyd kan stuit

‘n Nuwe vorm van munisipale administrasie, met eksterne beheer oor elektrisiteits- en ander dienstegelde, is moontlik eersdaags korrupte en mislukte munisipaliteite se voorland. Dit, indien Sakeliga suksesvol is met ‘n nuwe litigasiestrategie om plaaslike ekonomieë van munisipale verval te red.

In hofstukke wat tans op twee munisipaliteite in Noordwes, sowel as die minister van finansies en andere beteken word, vra die sakegroep Sakeliga die hof vir verreikende nuwe ingrepe, wat nog nooit op munisipale vlak toegepas is nie.

Die ingrepe wentel om die instelling van ‘n sogenaamde “spesiale meester”, wat beheer van elektrisiteits- en watergelde neem, naas onder meer verpligte administrasie en verpligte ingrepe deur nasionale tesourie se “Municipal Finance Recovery Service.” Die spesiale meester moet ook korrupsiebewyse en ander verslae saamstel, en aan Sakeliga, die respondente en die hof verslag doen.

“Wat nuut is aan hierdie saak is dat dit nie net ‘n pleister op diensteonderbrekings plak nie, maar ‘n langtermynoplossing begin bied, omdat dit water- en elektrisiteitsgelde uit die hande van amptenare te hou. Hiervoor vra Sakeliga die hof om ‘n spesiale meester – soos onafhanklike ouditeure – aan te stel, wat beheer oor water- en elektrisiteitsgelde neem. Die spesiale meester mag dan gelde aan Eskom en waterverskaffers, sowel as vir onderhoud van elektrisiteits- en waterinfrastruktuur oorbetaal. Slegs ‘n oorblywende gedeelte word aan die munisipaliteit en die administrasiespan beskikbaar gestel.”

“Die doel van die hofsaak is om plaaslike ekonomieë te red, deur ‘n strukturele oplossing daar te stel. Alhoewel ons en ander organisasies gereeld met interdikte en ander korttermyningrepe suksesvol is, vereis blywende oplossings beheer oor die vloei van geld. Na jare se versuim deur alle vlakke van regering om in te gryp soos hulle moes, vra ons die hof nou om te beveel dat die spesiale meester beheer van die belangrikste geldsake – oor water en elektrisiteit – neem, tot tyd en wyl nasionale tesourie se finansiële herstelplan behoorlik geïmplementeer is.”

Le Roux sê Sakeliga probeer ‘n situasie ontlont wat dreig om die hele land te destabiliseer. “Die mislukking op plaaslike vlak dui op ‘n ineenstorting van bestuur en beheer op alle vlakke van regering, tot by die kabinet. As ons net voortgaan om interdikte te kry wat die afsny van dienste deur Eskom en waterrade verbied, dan gaan Eskom en die waterrade finansieel ineenstort en die hele fiskus saam oor die afgrond neem. As ons egter toelaat dat die krag en water afgesny word of onderbreek word, dan is dit die einde van die ekonomie in daardie dorp – dan val eiendomswaardes na nul en migreer daardie gemeenskappe na die metro’s, wat net weer die druk verplaas en die groter sentra ook destabiliseer. ‘n Derde weg is nodig, die dienste moet gelewer word én die betalings daarvoor moet die regte bestemming bereik.”

Die litigasiestrategie vorm deel van Sakeliga se groter strategie vir plaaslike ekonomiese herstel. Sentraal tot die groter strategie is ‘n affiliasieprogram vir sakekamers, aangesien sakekamers ‘n kernrol in plaaslike ekonomiese herstel kan speel. Die affiliasieprogram bevorder samewerking tussen sakekamers, bring litigasiekoste af, en skep ‘n hefboommeganisme vir groter effektiwiteit. Sakeliga nooi sakekamers wat ‘n markekonomie en ‘n konstitusionele orde steun om by Sakeliga te affilieer.

Klik hier vir die kennisgewing van mosie.

Klik hier vir die funderende beëdigde verklaring.

Klik hier vir die ondersteunende beëdigde verklaring.

Klik hier vir die aanvullende funderende beëedigde verklaring.

Klik hier vir meer inligting oor sakekamer-affiliasie.

Archives