Sakeliga begin hofsaak om gevorderde ouditverslae in 154 munsipaliteite te bekom

law

Sakeliga het vandag ‘n hofsaak teen die Ouditeur-Generaal van Suid-Afrika (OG) van stapel gestuur om vir die eerste keer die OG se ongeopenbaarde bestuursverslae van 154 probleemmunisipaliteite openbaar te maak.

Die beskikbaarstelling van die verslae kan ‘n nuwe tydvak vir aanspreeklikheid van staatsamptenare, rekenskap van belastinggeld en munisipale litigasie inlui.

Alhoewel die OG ‘n grondwetlike plig het om hierdie bestuursverslae publiek te maak, is dit nog nooit tevore vrygestel nie. Die bestuursverslae verskil van die opsommende ouditverslae wat jaarliks bekendgemaak word, omdat dit detail inligting bevat oor spesifieke gevalle van korrupsie, wanbesteding, bestuursgebreke, belastingverkwisting en ander onreëlmatighede, soos opgemerk deur die ouditspanne. Daarenteen is die oorhoofse jaarlikse ouditverslae van die OG, wat algemeen beskikbaar is vir die publiek, grootliks opsommend. Tot dusver is slegs die opsommende ouditverslae publiek gemaak, terwyl die gevorderde bestuursverslae vir die munisipale en ander staatsowerhede self gereserveer is.

As deel van ons litigasie oor munisipale verval in Noord-Wes het Sakeliga verlede jaar van die bestaan van die verslae bewus geword. In Januarie 2022 het Sakeliga kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) die bestuursverslae vir vyf jaar elk van 154 probleemmunisipaliteite landswyd aangevra, waar daar ernstige probleme met dienslewering en finansiële administrasie is.

Die OG het die versoek geweier. Sakeliga het daarom vandag hofstukke by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien vir ‘n bevel om die OG te verplig om die bestuursverslae aan Sakeliga te lewer.

Sakeliga wil hierdie verslae ontleed en aan sakekamers, burgerlike organisasies en die algemene publiek beskikbaar maak ten einde hulle by te staan in die hantering van staatsverval en die bevordering van groter plaaslike ekonomiese selfstandigheid. Vanweë die detail en omvang daarvan kan die bestuursverslae vir sakelui en die algemene burgerlike samelewing bepalend wees by regstappe en ander ingrepe wat hulle wil doen om plaaslike verval om te keer.

Sakeliga spreek intussen erkenning uit vir die deeglike werk wat die OG doen om verval, wanbestuur en korrupsie by munisipaliteite in jaarlikse bestuursverslae uiteen te sit. Ons standpunt is egter dat die OG se deeglike verslae min voordeel vir die publiek inhou indien dit nie geopenbaar word nie. Dit is immers instellings van die burgerlike samelewing wat telkens verval in munisipaliteite aanspreek en hulle kan dit slegs doen met behoorlike inligting.

Artikel 188 van die grondwet verplig die OG om alle ouditverslae, insluitend die bestuursverlae, publiek te maak. Artikel 188(3) lui: “Die Ouditeur-generaal moet ouditverslae voorlê aan enige wetgewer wat ʼn regstreekse belang in die oudit het, en aan enige ander gesag wat deur nasionale wetgewing voorgeskryf word. Alle verslae moet openbaar gemaak word.” 

Kragtens die toepaslike hofreëls het die OG nou vyftien hofdae om ‘n kennisgewing van opponering te liasseer, sou die OG die aansoek wil opponeer.

Lees Sakeliga se hofstukke hier.

Uitgereik deur:

Tian Alberts
Regs- en Skakelbeampte, Sakeliga

Piet le Roux,
Uitvoerende Hoof, Sakeliga

Archives