Sakeliga bedien PAIA-versoek aan NEDLAC oor voortgesette inperking en nasionale inentingsverpligting

pexels-anete-lusina-4792288

Sakeliga het ’n PAIA-versoek aan NEDLAC gestuur om vas te stel wat hulle rol in voortgesette inperkings en druk vir landswye inentingsverpligting is. Die versoek vra vir alle notules, dokumente en besluite van hierdie statutêre entiteit wat met nasionale verpligte inenting, inentingsertifisering en ander voortgesette inperkingsmaatreëls verband hou.

Die versoek kom in die lig van aanduidings dat NEDLAC, of invloedryke lede van NEDLAC, ’n sleutelrol speel in politieke druk ten gunste van die handhawing van ramptoestandmaatreëls soos nie-farmaseutiese intervensies, nasionale inentingsdwang en nasionale inentingsgebaseerde toegangsbeheer binne en buite die werksplek.

Sakeliga beywer homself daarvoor dat die grendelstaat en die ramptoestand onverwyld en in geheel afgeskaf word, in die belang van dringende maatskaplike en ekonomiese herstel. Dit val te betreure dat NEDLAC en persone binne NEDLAC, wat op diskresie van ministers aangewys word, die ramptoestand en ongekende ingrepe op grond daarvan aanmoedig en legitimeer. Dit bemoeilik die werk van Sakeliga en ander onafhanklike organisasies op vele wyses, insluitende by litigasie teen regeringsvergrype, onder meer omdat die regering kan voorgee dat dit behoorlik in die sake-, arbeids- en gemeenskapsektor gekonsulteer het. In werklikheid het die regering verkies om te konsulteer met statutêre entiteite soos NEDLAC, ongeag die konflik van belange.

’n Voorbeeld van die rol wat NEDLAC sover speel is die politieke ommeswaai einde verlede jaar ten gunste van nasionale inentingsdwang en gepaardgaande openbare toegangsbeperkings. Terwyl president Cyril Ramaphosa so laat as September 2021 in die Parlement nog sterk teen inentingsdwang gekant was, het hy skielik in November 2021 ten gunste van nasionale inentingsverpligting en uitsluiting begin praat en spesifiek daarvoor aan NEDLAC spesiale erkenning gegee.

Volgens ’n NEDLAC-verslag gedateer 14 Januarie 2022 oefen NEDLAC reeds sedert Augustus 2021 druk uit vir inentingsdwang, sertifisering en toegangsbeperkings. Die dokument lys onder meer die volgende as maatreëls waarvoor NEDLAC vra:

  1. Versnel inentings deur “positiewe en negatiewe aansporings” (sic)
  2. Bevorder en dwing nie-farmaseutiese intervensies af
  3. Verklein grootte van byeenkomste vir ongevaksineerdes en vergroot byeenkomste vir gevaksineerdes
  4. Vereis inenting van werknemers by werksplekke
  5. Sluit ongevaksineerdes uit van ruimtes, funksies en byeenkomste

Aangesien NEDLAC ’n statutêre entiteit is, wil Sakeliga weet wie hierdie besluite geneem het, wanneer en op watter gronde dit geneem is, en watter “sosiale vennote” ten gunste daarvan was.

NEDLAC is ingevolge die Nedlac Wet (35 van 1994) statutêr as ’n regspersoon in die lewe geroep. Lidmaatskap vir sake-organisasies en arbeidsorganisasies word deur die minister van arbeid bepaal, op diskresie aan die hand van ’n lys saamgestel deur onderskeidelik BUSA en COSATU, FEDUSA en NACTU.

Sakeliga se PAIA-versoek vra ook vir die notules, besluite, beleide, verslae en dies meer van die sogenaamde Covid19 NEDLAC Rapid Response Task Team.

Piet le Roux
Uitvoerende hoof, Sakeliga

Archives