SA-ekonomie stort ineen tot onder 2008/09-krisisvlakke

pexels-daria-obymaha-1684149

Noodsaaklike hervormings ontbreek steeds

Die Suid-Afrikaanse regering se wetgewende reaksie tot Covid-19 was ’n ernstige skok vir die ekonomie. Dit volg op ‘n ekonomiese beleidsomgewing wat stelselmatige deur die loop van 2020 versleg het. Beide die Zuma-administrasie en die Ramaphosa-administrasie (tot op datum) het nie daarin geslaag nie om markhervormings te implementeer wat nodig is om die gety van ekonomiese agteruitgang om te keer.

Suid-Afrika is tans veel slegter daaraan toe as wat die geval was tydens die ekonomiese krisis van die laat 2000’s. In die komende tydperk sal die aard van die beleide wat oorbly in die nasleep van Covid-19 en stappe in die rigting van hervorming (of die gebrek daaraan) van kardinale belang wees vir die welsyn van alle gemeenskappe in Suid-Afrika.

Dít is ’n paar van die bevindings in sakegroep Sakeliga se kwartaallikse Ekonomiese oorsig vir besluitneming in die sakewêreld, vandag gepubliseer in samewerking met ETM Macro Advisors.

Die Junie-verslag illustreer die ernstige mate waarin Suid-Afrika se streng inperking bedryfshandelstoestande geraak het, waar ’n paar aanwysers ’n erger afname in April 2020 toon as wat ervaar is tydens die  ekonomiese krisis van die laat 2000’s.

Die verslag beklemtoon dat ’n vinnige ommeswaai van die strengheid van die plaaslike inperkingsregulasies ’n kritieke element bly vir die waarskynlikheid van ’n betekenisvolle ekonomiese herstel ná Covid-19.

“Die tweede kwartaal van 2020 was in baie opsigte ongekend. Suid-Afrika se saketoestande was reeds swak selfs aan die begin van 2020, maar die oormatige streng en uitgerekte plaaslike inperking het ’n ernstige impak op heelwat ondernemings gehad. Hoewel sommige inperkingsmaatreëls in Junie verslap is, wat meer sake-aktiwiteit laat hervat het, word baie ondernemings, soos byvoorbeeld in toerisme, steeds verbied om handel te dryf,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

Indiensneming

Die verslag wys op die besonder kommerwekkende toedrag van sake vir indiensneming en ramings dat werkverliese tydens die inperking tussen twee en drie miljoen mense kan beloop. “Ons voorsien wel herstel in indiensneming in Junie vanaf die bedrukte vlakke van April en Mei, maar dit sal nie ’n maklike herstel wees nie. Werkloosheid was reeds baie hoog voor Covid-19, en arbeidsmarkaanwysers is tans baie swak. Heelwat werkgewers is nie in staat om hul werksmag uit te brei nie en ons sien besigheidsluitings onder ons lede.”

“Die ondervinding van lande wat uit inperkings gekom het, soos China, dui daarop dat baie ekonomiese aktiwiteit vir ’n geruime tyd sal sukkel om te herstel tot pre-Covid-19-vlakke, veral as besighede gekonfronteer word met die moontlike herinstelling van streng inperkingsmaatreëls.”


Nasionale begroting

Nog ’n bron van kommer wat in die verslag genoem word, is die toestand van die regering se begroting en begrotingstekort. Die inperking het druk op belastinginkomste verhoog, terwyl druk aan die toeneem is vir regeringsbesteding ten einde huishoudings en besighede te help. Dit wil voorkom asof belastinginkomste vanjaar met sowat R300 miljard kan daal.

“In hierdie stadium nader nuwe regeringslenings en voortgesette renteuitgawes op lenings 40% van die totale regeringsbesteding. Op die huidige trajek kan hierdie syfer maklik meer as 50% van die totale regeringsbesteding oorskry. Waar sulke verhoudings 40% oorskry, kan dit ’n gevaarteken wees van ’n dreigende fiskale krisis.”

Die verslag hersien ook die presidensiëlebeleidtelkaart, ’n saamgestelde indeks wat poog om die impak van ’n huidige presidensiële administrasie se ekonomiesebeleidskeuses te meet teen ’n aantal ekonomiese maatreëls, insluitend indiensneming, geldeenheid, effekteopbrengste en belegging. Die huidige administrasie het in Mei 30/100 op hierdie skaal behaal.

“Covid-19 en die regering se wetgewende reaksie was ’n ernstige skok vir die ekonomie, en die ekonomiese beleidsruimte het selfs meer versleg sedert die begin van 2020. Beide die Zuma-administrasie en die Ramaphosa-administrasie het tot op datum nie die markhervormings geïmplementeer wat nodig is om die gety van ekonomiese agteruitgang om te keer nie. In die komende tydperk sal die aard van die beleide wat in die nasleep van Covid-19 oorbly en stappe in die rigting van hervorming (of die gebrek daaraan) ’n belangrike bepaler wees van die welsyn van alle gemeenskappe in Suid-Afrika,” het Van Onselen afgesluit.

Lees die volledige verslag hier.

Archives