Ras-gebaseerde toerisme-fonds vir besighede skadelik en onaanvaarbaar – Sakeliga

pexels-fauxels-3184433

Die nuwe slegs-swart regeringsfonds vir toerismebesighede is skadelik en druis in teen die openbare belang. Dat die staat selfs in krisistyd sakelui probeer forseer om hul besigheidsbesluite op grond van rasseklassifikasie te neem, is moreel en ekonomies onaanvaarbaar. Só meen Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakegroep Sakeliga, na die bekendstelling van die Toerisme Ekwiteitsfonds Dinsdag deur president Cyril Ramaphosa.

“Wanneer dit by die insameling van belasting kom is almal vir die regering goed genoeg. Selfs die mees rampspoedige Covid-19-regulasies het ten minste nog nie ‘n rassevoorskrif nie. Maar wanneer dit by hulp kom, dan sorteer die regering sakelui oop en bloot volgens ras. Hierdie toerismefonds is ‘n onaanvaarbare voortsetting van ‘n mislukte, verdelende en gedoemde politieke program. Dit verhef die ras van enkele sake-eienaars bo die belange van werknemers, verbruikers en verskaffers uit alle rasse. Ons sien hier die kortstondige verryking van enkele politieke gunstelinge, ten koste van publieke welvaart, werknemers- en verbruikersbelange, menswaardigheid, en sakelui se selfstandigheid,” sê Le Roux. Le Roux sê die persoonlike stempel van goedkeuring wat president Cyril Ramaphosa met sy openingsrede op die rasgebaseerde toerismefonds plaas stel verswarende omstandighede daar: “As voorsitter van die Kommissie op Swart Ekonomiese Bemagtiging, was president Cyril Ramaphosa 20 jaar gelede instrumenteel in die ontwikkeling van BEE. Maak egter nie saak of dit toe met die beste bedoelings in die wêreld ontwikkel is nie: na twee dekades is dit duidelik dat BEE skadelik is – iets wat vandag wyd erken word. Dat die regering nou, in krisistyd, sy verbintenis tot hierdie beleid verskerp, in plaas van hervorm, is onwys en afkeurenswaardig.”

Sakeliga het verlede jaar insgelyks kommer uitgespreek oor op Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, se aankondiging dat BEE ‘n rol sal speel in toekennings vanuit die Covid-19 verligtingsfonds vir KMMO’s in die toerismebedryf. Die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) is Dinsdagmiddag in samewerking met die departement van toerisme en kleinsakeontwikkeling, bekend gestel, en word klaarblyklik deur ‘n kombinasie van sowat R1,2 miljard se belastinggeld en lenings gefinansier. Om te kwalifiseer vir lenings of toelae vanuit die fonds, sal ‘n onderneming in die toerismebedryf egter minstens 51% in swart besit moet wees.

“Van alle dinge is die Covid-19-situasie nie die tyd vir BEE nie. Sakeliga nooi sakeondernemings wat voel dat dit oor die hoof gesien is met verligting vanweë BEE-status, om ons te kontak,” sluit le Roux af.

Archives