Ramptoestand se einde en herbou van samelewing op ons skouers

Die ramptoestand is die werklike ramp. Dit word veroorsaak deur ‘n regering wat noodmagte aan homself toegeken het en onwillig is om daarvan afstand te doen. Die skade sal nie by vlak 2 stop nie en – indien dit nie aangevat word nie – lank ná Covid-19 verby is steeds bly geld.

“Ons doen ‘n beroep op ons lede, ander sakelui, ander besigheidsorganisasies en die burgerlike gemeenskap om die ramp te hanteer as iets wat nie vanself verby sal gaan nie. Die regering sal nie, uit eie beweging, sy foute erken of die magte wat dit vir homself geneem het teruggee nie. Vanaand se aankondigings deur President Cyril Ramaphosa is die gevolg van onafhanklike druk vanuit die sakegemeenskap en burgerlike samelewing. Dit hang van hierdie groepe af om die druk vol te hou en die ekonomie te herbou,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Daar is slegs een pad uit hierdie ramp: minder politiek, meer besigheid.”

Sakeliga sal die regulasies bestudeer en met ander organisasies, wat teen die staat van inperking gekant is, saamwerk oor verdere stappe. Intussen vra ons dat alle ondernemings die volgende doen:

  1. Neem aan die staat gaan jou nie help nie
  2. Ondersteun Business for Ending Lockdown by www.endlockdown.co.za
  3. Doen wat ook al nodig is om in besigheid te bly, onderhewig aan konstitusionaliteit en geregtigheid
  4. Moenie enigiemand wat ‘n onkonstitusionele en onregmatige regulasie oortree aangee nie
Argiewe