Ramptoestand moet beëindig word en nie versluier word nie

lock

Die Suid-Afrikaanse regering poog om magte wat net tydelik tydens die nasionale ramptoestand moes geld, permanent te verskans. Pleks van normaliteit te herstel, is die regering besig om die ramptoestand stilletjies voort te sit, en dit terwyl senior gesondheidsberoepslui Covid-19 toenemend as voortaan soortgelyk aan seisoenale griep beskou.  

President Cyril Ramaphosa het in sy Staatsrede gesê die nasionale ramptoestand sal opgehef word eers wanneer permanente regulasies ingestel is. Die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla het gesê die regering is besig om regulasies in hierdie verband op te stel. Nou, in ’n brief aan Sakeliga se prokureurs, het die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, te kenne gegee dat die nasionale ramptoestand beëindig sal word eers wanneer “toereikende maatreëls gefinaliseer is om die gevolge van COVID-19 ná die ramptoestand die hoof te bied.” (Lees die brief  hier). 

Sakeliga is van mening dat hierdie pogings van die regering gemik is op die permanente verskansing van magte om inperkings, reisbeperkings, verpligte inenting, verpligte dra van maskers en ander indringende maatreëls vir “openbare gesondheid” af te dwing. 

Daar is geen aanduiding dat Covid-19 uitgewis kan word nie, en dit is onverskoonbaar om die blote voortbestaan daarvan te gebruik as regverdiging vir inperkings. Daar is duidelik geen onderliggende ramp en geen krisis met hospitaalkapasiteit nie. Daar bestaan vandag ’n magdom ernstige bedreigings vir individuele en gemeenskapswelstand in Suid-Afrika, insluitende nie net baie ander siektes nie maar ook van die regering self, soos blyk uit die baie erkennings en selfs verskeie van die aspirasies van die President in sy Staatsrede. 

Sakeliga sal pogings teenstaan om sulke drastiese maatreëls en omvattende magte in wetgewing of gewone regulasies op te neem. 

Terwyl daar klaarblyklik geen regverdiging vir ’n voortgesette nasionale ramptoestand is nie, het dit duidelik geword dat diegene wat die diskresie geniet wat kragtens die nasionale ramptoestand aan die regering en ondeursigtige besluitneemliggame verleen is, nie wil afstand doen van die gesag om die samelewing te mikrobestuur nie. 

Sakeliga gaan voort met voorbereiding vir litigasie om die Nasionale Rampbestuursentrum te dwing om sy huidige klassifikasie van Covid-19 as ’n nasionale ramp te hersien. In ’n vroeëre verklaring het ons gemeld dat die hoof van die Sentrum, dr Mmaphaka Tau, weier om te voldoen aan Sakeliga se versoek om sy oorspronklike klassifikasie as nasionale ramp te heroorweeg, op grond waarvan die daaropvolgende nasionale ramptoestand deur Dlamini-Zuma afgekondig is. Volgens Tau baseer die Sentrum sy klassifikasies op die optrede van die Minister – die omgekeerde van die wetlik voorgeskrewe prosedure.  

Inperkings en verbandhoudende beperkings het aansienlike maatskaplike en ekonomiese benadeling tot gevolg. Om sulke mag, wat die samelewing ernstig kan beïnvloed en verander, aan regulerende owerhede of ministeriële diskresie oor te laat, is strydig met konstitusionalisme. Dit erodeer regsekerheid en verbreed die bestek van onbeteuelde gesentraliseerde staatsmag. Op sy beurt ontmoedig dit langtermynbeplanning en investering, tot nadeel van die maatskaplike en kommersiële orde. 

Die hele doel met die beëindiging van die ramptoestand is om te verseker dat die publiek nie langer aan die buitengewone, arbitrêre en onbeteuelde besluite van regeringsamptenare en burokrate onderhewig sal wees nie en om parlementêre oorsig en ander vorme van beheer oor staatsoptrede te herstel. Om, soos die regering, te kenne te gee dat die ramptoestand beëindig kan word slegs wanneer sulke gesag in ander wetgewing vasgelê is, kom neer op algehele ontkenning hiervan en is onaanvaarbaar. 

Sakeliga Strategiese Ontledingseenheid

Archives