Pretoria Landdroshof weer funksioneel, Sakeliga gaan reuse bottelnek op hofrol aanspreek

law

Na weiering vroeër hierdie maand om bestrede sake aan te hoor, oënskynlik weens Covid-19 redes, hoor die landdroshof in Pretoria nou weer alle sake aan.

Sakeliga het op 3 Augustus ‘n dringende brief aan die kantoor van die hoofregter, die Tshwane -hooflanddros, die landdroskommissie, die agbare regterpresident Mlambo en die minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling gestuur en die hof gemaan om verskeie sake, onder meer geopponeerde kommersiële sake en sake wat voor die kleineisehof moet dien, onmiddellik te hervat om verdere verliese vir besighede te vermy.

“Sakeliga verwelkom die heropening van die landdroshof vir bestrede kommersiële sake. Die versuim of weiering om bestrede kommersiële sake aan te hoor hou immers groot risiko’s vir besighede met sake op die agterstallige hofrol in, veral waar verhaalbare bedrae en afdwinging van ooreenkomste ter sprake is,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“Die feit dat die landdroshof hul direktief onttrek het en die aanhoor van alle sake weer hervat word, is egter nie voldoende nie. Daar is ‘n reuse bottelnek op die hofrol van howe landswyd, waaronder die Pretoria Landdroshof en Hooggeregshof vername voorbeelde is. Volhoubare en koste-doeltreffende oplossings moet nou deur sowel die howe as die privaatsektor en burgerlike samelewing in werking gestel word, om die bottelnek op te los.”

Die jare-lange agterstand op die hofrol van howe landswyd, met die gepaardgaande impak op besighede en regslui, het Sakeliga genoop om ‘n koste-vriendelike privaat geskilbeslegtingsinisiatief van stapel te stuur. Verskeie advokate in Pretoria het reeds bereidwilligheid aangedui om pro bono as arbiters op te tree. Verdere aankondigings sal binnekort hieroor gemaak word.

Archives