Plundering en versnellende staatsverval regverdig kragtige reaksie van privaatsektor en gemeenskap

Die huidige wydverspreide plundering en versuim deur die staat om in te gryp regverdig ‘n kragtige reaksie deur ondernemings en georganiseerde gemeenskapstrukture om wet en orde te herstel. Die onluste, ontketen deur die tronkstraf van oud-president Jacob Zuma, put momentum uit jare se ekonomiese en sosiale druk versnel deur grendelstaatinperkings.

Sakeliga:

  1. verwelkom alle wettige en verantwoordelike ingrepe deur lede van die publiek, private sekuriteitsfirmas, gemeenskapsveiligheidsforums en ondernemings om lewens te beskerm en bates te beveilig teen kriminele vernietiging;
  2. vra dat die staat se sekuriteitskapasiteit ingespan word om hierdie pogings te ondersteun en konstruktief met gemeenskapsveiligheidsforums saam te werk;
  3. moedig sakekamers aan om by te dra tot plaaslike wetstoepassing, hetsy publiek-, privaat- of gemeenskapsgebaseerd en om konstruktief met gemeenskapsveiligheidsforums saam te werk;
  4. dring aan op die herstel van normale sosiale interaksie en die vermoë om te kan werk, deur grendelstate te beëindig en die verpligte regulasies daarvan om te skakel na vrywillige aanbevelings.

Die huidige onrus het verskeie bydraende faktore en is nie bloot ‘n politieke verskynsel nie. Die oproer en plundery, hoofsaaklik in KwaZulu-Natal, maar ook elders in die land, aangewakker deur die tronkstraf van voormalige president Zuma, is moontlik gemaak deur die opbou van verskeie sosiale, politieke en ekonomiese kragte. Alhoewel dit in hierdie stadium onduidelik is of die chaos sal voortduur en versprei en of dit sal verdwyn, is dit ‘n duidelike herinnering aan die rede waarom sakegemeenskappe hulself moet beskerm teen staatsverval, die middele moet ontwikkel om hul bates te beveilig en om domeine van orde te bou waar hulle waarde kan toevoeg en welvaart kan skep.

Soveel as wat die huidige onluste kragtige ingryping regverdig, moet erken word dat gemeenskappe gebukkend gaan onder die gewig van chronies slegte ekonomiese beleid en ‘n toenemende versuim deur die staat om orde te handhaaf. Sakeliga het sedert Maart 2020 by verskeie geleenthede gewaarsku oor die risiko van inperkings en die gevolglike erge sosiale destabilisering wat waarskynlik langdurige skade tot gevolg sal hê. Hierdie gevolge sou nooit net in korttermyn werksverliese en afname in inkomste vergestalt nie, maar ook in langtermyn sosiale druk, hulpbrontekorte, kapitaaluitputting, volgehoue werkloosheid en toenemende wetteloosheid. Grendelstate rig groot skade aan komplekse sosiale stelsels en hou die gevaar van onvoorspelbare en opeengestapelde probleme vir gemeenskappe en besighede in.

Grendelstaatregulasies het die afgelope 16 maande miljoene lewensbestane vernietig en honger en desperaatheid veroorsaak. Die onluste kom nou in ‘n tyd waarin hernieude grendelstate nog meer mense toevoeg tot die geledere van werkloses en ongeskooldes, terwyl daar hierdie keer veel minder reserwes en spaargeld is om die hou te versag. Teen Mei vanjaar was ongeveer 1,4 miljoen meer mense werkloos as aan die begin van 2020, met ernstige probleme vir hulle en hul miljoene afhanklikes. Boonop het skooluitvalpersentasies na berigte verdriedubbel, tot ongeveer 750 000, gedurende die grendelstaat. Indien nie die gevangenisstraf van die oudpresident nie, dan sou iets anders onrus veroorsaak het en waarskynlik weer in die toekoms veroorsaak.  

Meer onlangs veroorsaak harder grendelstaatinperkings en verskillende Covid-bepalings dat meer mense binnenshuis bly, wat openbare ruimtes minder beset deur wetsgehoorsame gemeenskappe laat en die ruimte vir diegene wat plunder en vernietig meer oopstel. Besige daaglikse omgang in die openbare domein plaas ‘n belangrike demper op kriminele en antisosiale gedrag.

Die regering behoort die inperkingsregulasies dringend op te hef en sodoende mense in staat stel om te werk, die roetine van hul daaglikse sosiale en kommersiële interaksie te herstel, hul lewensbestaan op ‘n ordelike manier te beveilig en hul Covid-19-risiko’s op ‘n persoonlike en gedesentraliseerde manier te bestuur.

Sakekamers sal waarskynlik in die toekoms ‘n al hoe belangriker rol in die handhawing van wet en orde in die kommersiële distrikte van dorpe en stede speel. Dit is aangewese vir sakekamers landswyd om waaksaam met betrekking tot veiligheid en sekuriteit te wees en stappe te neem om hul bates deur wettige veiligheidsnetwerke en kruiskulturele samewerking met plaaslike gemeenskappe en netwerke te beskerm. ‘n Kritieke eienskap van staatsbestande ondernemings behoort te wees om regmatige en gestruktureerde sekuriteitsalternatiewe en -aanvullings tot staatspolisiëring in te stel. Sakeliga onderskryf samewerking met staatswetstoepassers waar moontlik, wettige gebruik van wapens deur sake-eienaars ter verdediging van lewens, aktiewe ontplooiing van privaat gewapende veiligheidsdienste en samewerking met gemeenskapsveiligheidsforums soos dié wat deur AfriForum en andere bestuur word.

Sakeliga is ontevrede met, maar ongelukkig nie verbaas nie, oor die polisie se onvermoë om die situasie onder beheer te kry. Vele goeie en toegewyde polisielede bevind hulself ongelukkig onder swak bestuur en sonder genoegsame hulpbronne en moet waar moontlik ondersteun word.