Patel se Maatskappyewet-wysigingswetsontwerp hou verdere ekonomiese skade in

Die sakegroep Sakeliga is gekant teen die voorgestelde Maatskappyewet-wysigingswetsontwerp en het dit so aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging (dtic) bekendgemaak.

Die huidige wetsontwerp is ‘n vroeë-fase-voorstel deur minister Ebrahim Patel en die departement en geniet nog nie aandag van die betrokke portefeuljekomitee by die Parlement nie.

“Hierdie wysigingswetsontwerp is presies waarvan die ekonomie baie minder nodig het. Die kernprobleme daaraan verbonde het te doen met onbehoorlike verslagdoeningsvereistes, en politieke diskresie rondom etiekkomitees,” sê Piet le Roux, Sakeliga se uitvoerende hoof.

“Die voorgestelde wetsontwerp verydel handel, nywerheidsontwikkeling en mededinging. Terwyl die wetsontwerp tans niks meer as ’n beleidsvoorstel deur minister Patel en die departement is nie, is dit genoeg om besighede en entrepreneurs wat die minister se neiging na intervensionisme en sentralisering raaksien, verder te vervreem.”

“Sakeliga is gekant teen die wetsontwerp en sal voortgaan om teenkanting te bied vir solank as wat minister Patel dit nie terugtrek nie. Al is daar hier en daar klousules met moontlike meriete in die voorgestelde Wetsontwerp na te speur, balanseer dit nie die oorweldigend skadelike aard van die dokument uit nie.”

Vir Sakeliga se volledige kommentaar soos ingedien, sien hierdie skakel.

Vir kommentaar:

Russell Lamberti 
Piet le Roux 

Archives