Opening van N3 verwelkom – konvooi met noodvoorraad reis nou individueel, sekuriteitsbegeleiding gekanselleer

Gegewe die heropening van die N3 sal deelnemers aan die 20-voertuig konvooi met noodvoorraad, wat Donderdag deur sakeorganisasies aangekondig is, nou individueel reis en is gewapende sekuriteitsbegeleiding nie meer nodig nie.

Alle noodvoorraad en goedere wat in die konvooi gedra sou word sal nou by wyse van transportvoertuie, wat so gou as moontlik en op eie inisiatief vertrek, vervoer word – verskeie waarskynlik reeds binne die volgende 24 uur.

Die sekuriteitsbegeleide konvooi was ‘n gesamentlike projek van die sakeorganisasies Sakeliga, Saai en Neasa, in die lig van ‘n weeklange sluiting van die N3 en gevare op alternatiewe roetes. Die doel van die konvooi was om noodverligting en voorraadverskaffing na geaffekteerde dele van KwaZulu-Natal te bring. Die noodkonvooi sou vergesel word van ‘n gewapende sekuriteitseenheid en lugsteun, voorsien deur Dyck Advisory Group.

“Van Sakeliga, Saai en Neasa se kant wil ons dank uitspreek teenoor al die betrokke partye. Ons verskuif nou ons fokus weg van die heropening van transportroetes, na ondersteuning aan weldaadsorganisasies en ondernemings meer algemeen. Alhoewel ons hoop dat dit nie nodig sal wees nie, is ons gereed om ons spesifieke stappe weer van stapel te stuur, indien toekomstige onrus weer ‘n sterk sakerespons regverdig.”

Enige donasies wat gedurende hierdie tyd vir doeleindes van die konvooi ontvang is sal na weldaadsorganisasies gekanaliseer word, ter ondersteuning van hul noodlenigingspogings. Ondernemings en lede van die publiek wat graag steeds noodleniging wil ondersteun is welkom om [email protected] te kontak, vanwaar hulle in kontak met toepaslike weldaadsorganisasies gebring sal word.

Uitgereik deur

Piet le Roux 
Uitvoerende hoof 
Sakeliga 
082 616 9501 

Francois Rossouw 
Uitvoerende hoof 
Saai 
082 575 5484 

Gerhard Papenfus 
Uitvoerende hoof 
Neasa 
082 557 2724 

Archives