Onteieningsklousule bring risiko vir konstitusionele orde en van parlementêre inkriminering mee – Sakeliga

cape-town-997524_1920

Die sakegroep, Sakeliga, het vandag by parlementêre komiteeverhore sterk beswaar teen die voorgestelde Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet. 

Sakeliga het, soos vantevore, klem op die grondwetlike onversoenbaarheid van onteiening sonder vergoeding gelê, maar het bygevoeg dat onlangse formulerings die parlement op risiko plaas om publiekregtelike wanvoorstellings te doen. 

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die organisasie, het namens Sakeliga aangevoer: 

  1. “Grondwette is nie wettige grondslagdokumente is net omdat dit op ‘n sekere manier goedgekeur is nie, maar fundamenteel omdat dit aan ‘n sekere basiese struktuur voldoen en ‘n sekere basiese inhoud het.” 
  2. “Onteiening sonder vergoeding, goed begrepeis beslaglegging en dus onversoenbaar met die basiese struktuurvereistes van konstitusionalisme.” 
  3. “Die vervanging van die woorde ‘onteiening sonder vergoeding’ deur ‘onteiening met nul vergoeding’ verander niks van wesenlike belang nie en lok daarom bloot parlementêre inkriminering deur wanvoorstelling uit, dit wil sê publiekregtelike bedrog.” 

Ter uitbreiding op die wanvoorstellingskwessie en die regsdoktrine van fraus legis sê Le Roux: “Fraus legis is ‘n handeling ter misleidende ontduiking van die toepassing van die reg. Die leerstelling word gewoonlik privaatregtelik toegepas, maar is eweneens publiekregtelik van belang. Die relevansie daarvan  in die voorgestelde Agtiende Wysigingswetsontwerp op die Grondwet se vervanging van die term ‘onteiening sonder vergoeding’ deur onteiening waar ‘vergoeding nul is’. Hierdie alternatiewe bewoording is ooreenkomstig advies deur die parlement se kantoor vir konstitusionele en regsdienste (CLSO), gedateer 21 Februarie, asof van wesenlike belang ingevoer, terwyl dit in werklikheid geen substantiewe verskil tot gevolg het nie – ‘n feit wat die CLSO erken. 

“Die insluiting van die ‘nulvergoedingskonsep is ‘n poging om voor te gee dat onteiening sonder vergoeding nie in Suid-Afrika bestaan nie, terwyl dit juis dit is wat besig is om ingestel te word. Die poging om hierdie feit formalisties te verberg en sodoende die reg se volle werking en beperkings te probeer ontduik, is ‘n erkenning en geval waar die parlement gevra sou word om in fraudem legis te handel. 

Le Roux sluit af: “Sakeliga voer aan dat die Grondwet nie gewysig kan word om konfiskering, soos beoog, te bevorder en steeds waarlik ‘n grondwet bly nie. Dis sal, in soverre dit só gewysig en toegepas word, legitimiteit verloor en dit eers weer herwin nadat so ‘n wysiging en toepassing ongedaan gemaak word. 

Dit is my aanbeveling dat hierdie komitee aan die parlement verslag lewer dat hy nie ‘n wysiging kon voorstel wat vir konfiskering voorsiening maak nie, omdat konfiskering nooit implisiet in ’n behoorlike grondwet kan wees nie en aangesien die instelling daarvan tot ‘n ongrondwetlike bestel sou lei in soverre dit toegepas word.”  

Vir die teks van Le Roux se voorlegging tydens vandag se verhoor, klik hier. 

Vir Sakeliga se volledige skriftelike submissie van Februarie 2020 , klik hier. 

Archives