Ontbyt met Spaanse Ambassade bring nuwe moontlikhede

pexels-porapak-apichodilok-346885

Sakeliga het op Donderdag, 13 Mei, weer ‘n internasionale skakelgeleentheid by sy lys van suksesvolle funksies gevoeg. Die ontbytsessie met die Spaanse Ambassade het goeie bywoning gehad en interessante gesprekke het rondom wedersydse samewerking plaasgevind.

‘n Aanbieding deur die Hoof Ekonomiese en Kommersiële Raadgewer van die Spaanse Ambassade in Suid Afrika, mnr Isaac Barbero, het belangrike kommersiële en ekonomiese inligting met Sakeliga-lede en gaste gedeel. Spaanse maatskappye doen tans baie besigheid in Duitsland, Frankryk en Italië, maar ongelukkig nie so baie in Suider-Afrika nie. Spanje se handelsgeleenthede is nie goed bekend onder die Suid-Afrikaanse sakegemeenskap nie en daar is baie ruimte vir groei op dié gebied.

Spanje se belangrikste invoerprodukte is olie, staal, klerasie en tekstiele en sy hoof uitvoerprodukte is motors, motorparte en bykomstighede – alhoewel Spanje nie die tuiste van enige spesifieke motorhandelsmerk is nie.

Tydens die vrae-en-antwoordsessie het mnr Barbero daarop gewys dat Suid-Afrika en Spanje baie in gemeen het, wat dit voordelig maak vir maatskappye in beide lande om met mekaar handel te dryf. Spesifieke verwysing is gemaak na soortgelyke invoere, asook die uitstekende werksetiek van die land se mense. Die Spaanse gevorderde industriële ekonomies-kompeterende Mondragon-projek (https://en.wikipedia.org/wiki/Mondragon_Corporation) het veral onder die Suid-Afrikaners belangstelling gewek. Daar was ook groot belangstelling in tersiȇre onderrig.

Sakeliga wil graag direkte handelsbetrekkinge met die meeste relevansie vir sy lede prioritiseer. Daar sal binnekort ‘n opname van stapel gestuur word wat sal poog om te bepaal op watter lande spesifiek Sakeliga se lede verlang dié organisasie is sy internasionale skakelprogram moet fokus. Lede word versoek om deel te neem en hul voorkeure te deel.

Afgevaardigdes van die Ambassade van die Koningkryk van Spanje saam met lede van Sakeliga se uitvoerende bestuur.

Archives