Onmiddellike herroeping van gesondheidsregulasies nodig, maar nie noodwendig einde van litigasie

pexels-anna-shvets-4167544

Sakeliga bevestig dat die staatsprokureur pas skriftelik aangedui het dat hy binne die volgende dag ‘n aankondiging oor die gesondheidsregulasies vanuit die kabinet verwag. Sakeliga se litigasie gaan intussen onveranderd voort en ons verwag steeds van die Departement van Gesondheid om antwoordende eedsverklarings te lewer.

Wat Sakeliga nie sal aanvaar nie is pogings om litigasie te vermy deur middel van gerieflike aan- en afskakeling of gedeeltelike terugtrekking van regulasies. Ons let byvoorbeeld daarop dat die minister se haastige proses, om skielik die regulasies te hersien, saamval met ‘n sperdatum vir die Minister van Gesondheid om ‘n antwoordende eedsverklaring in Sakeliga en andere se hofsake teen hom te lewer, naamlik vandag, 22 Junie 2022.

In Sakeliga se geliasseerde aanvullende eedsverklaring vra ons reeds ‘n bestraffende kostebevel teen die Departement van Gesondheid. Ons voer in hofstukke aan dat die departement bewus was dat sy regulasies onwettig sou wees, maar dat hulle in kwade trou rekening gehou het met die feit dat die langsame aard van litigasie aan hulle tyd sou bied om aanpassings te doen voordat dit aangeveg kan word.

Sou die regering binnekort iets oor die regulasies aankondig, wys ons op die noodsaak daarvan om versigtig en presies te bepaal wat die regering sê. Daar is ‘n verskil daartussen om regulasies net voorlopig af te skakel, of net te wysig, of volledig terug te trek. Sakeliga sal dus eers die meriete van enige aankondiging oorweeg wanneer die regering ‘n amptelike besluit bekendmaak.

Dan is daar ook nog die onderskeid tussen die regulasies wat op 4 Mei 2022 gepromulgeer is en die selfs meer omvattende regulasies wat tans nog oop is vir openbare kommentaar. Daar is min nut daarin om vandag iets af te skaf wat die regering steeds beplan om, in ‘n ander verskuilde vorm, twee maande van nou af weer te promulgeer.

Benewens die noodsaak om geheel en al van die huidige en voorgenome regulasis af te stap, is daar ook nog die kwessie van die Minister van Gesondheid en die regering se onbehoorlike en minagtende openbare deelnameproses tot dusver. Die fundamenteel onaanvaarbare aard van die regering se openbare deelnameproses(se) is ‘n punt waar nie sonder meer van afgestap kan word net deur regulasies terug te trek nie.

Alhoewel die regering onmiddellik ál die 4 Mei-regulasies, insluitende verpligtinge oor maskers, Covid-toetse, reisvereistes, inentingspenalisasies, funksiebeperkinge en meer behoort af te skaf, is so ‘n stap dus nie noodwendig die einde van Sakeliga se litigasie nie. Sakeliga sal enige aankondiging en pogings om verdere iterasies van die huidige regulasies te skep eers sorgvuldig analiseer, regsadvies inwin en daarna besluite en verdere stappe aankondig.

Vir Sakeliga se hofstukke, klik hier. Lees meer oor die saak hier.

Archives