Nuwe tenderregulasies wys impak van Sakeliga-wen in Grondwethof 

pexels-sora-shimazaki-5668882

Vir die eerste keer sedert 2017 is BEE-voorvereistes afwesig uit die minister van finansies se voorgestelde regulasies vir staatstenders. Die konsepregulasies volg nadat die minister se 2017-regulasies, wat BEE destyds tot voorvereiste by staatstenders verhef het, in Februarie danksy Grondwethof-litigasie van Sakeliga onwettig en ongeldig verklaar is. 

Die bewese onwettigheid van die vorige regulasies het die Minister  genoop om nou nuwe konsepregulasies te publiseer, waaruit alle BEE-voorvereistes weggelaat is. Sou die regulasies gepromulgeer word, herstel dit BEE in staatstenders ten minste tot die status quo voor 2017, toe BEE-kriteria maksimaal 20% aandeel in die evaluasie van tenders getel het. 

Alhoewel die nuwe regulasies ‘n groot verbetering is, moes die minister die stap al jare gelede geneem het, eerder as om teen Sakeliga te litigeer. Die onwettige poging om BEE-voorvereistes deel van openbare verkryging te maak het die afgelope vyf jaar miljarde rande se skade vir die publiek en sakelui veroorsaak. Die publiek moes gediend wees met dienslewering wat beperk was tot dit wat kom uit ‘n klein, polities-gekonnekteerde poel van tenderaars, eerder as die volle spektrum van diensverskaffers in die mark. Sakelui moes skielik hul aandeelhouding verwater indien hulle staatstenders wou hê, of kon glad nie meer staatstenders bekom nie. 

Alhoewel Sakeliga die Grondwethof-uitspraak téén die 2017-regulasies as baie belangrik beskou, is dit nog nie die einde van BEE nie. Dit is te verwagte dat diegene wat ten gunste van BEE is of voordeel daaruit trek alternatiewe maniere in wetgewing en regulasies sal soek om BEE te handhaaf en uit te brei. Sakeliga raai sakelui daarom aan om hul blootstelling aan BEE-vereistes so laag as moontlik te hou, en bedag te bly op die impak van BEE en moontlike nuwe regulasies en wette. Sakeliga verwelkom ook finansiële of ander ondersteuning vir sy langtermynverbintenis om ‘n gunstige sakeomgewing sonder BEE te herstel. 

Sakeliga beplan om volgende week ‘n proses vir openbare deelname van stapel te stuur wat lede en besighede in die algemeen nooi om op die nuwe konsepregulasies kommentaar te lewer.  

Uitgereik deur: 

Piet le Roux 
Uitvoerende Hoof,  
Sakeliga 

Tian Alberts 
Regs- en Skakelbeampte,
Sakeliga 

Archives