Nuwe diskriminasie wet is tirannie op stelte

theme-16

Om die spot te dryf met ‘plat-Aarders’ is miskien die steunpilaar van menige grap. Maar as die PEPUDA Wysigingswetsontwerp aanvaar word, kan dit jou in die gelykheidshof in moeilikheid laat beland. Hierdie wetsontwerp maak onder andere voorsiening vir beskerming teen “onbedoelde” diskriminasie op grond van “oortuiging”.

Die PEPUDA Wysigingswetsontwerp het ten doel om die sogenaamde Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (PEPUDA) te vervang.

Wat die regering hier probeer doen is om deur middel van ‘n wysigingswetsontwerp, met ander woorde deur die agterdeur, die erg gekritiseerde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak, in praktyk in te lyf. Laasgenoemde het in 2016-2018 gebuk gegaan onder strawwe opposisie van die burgerlike samelewing. Sou die Parlement met die wysigingswetsontwerp voortgaan, sal insgelyke teenstand waarskynlik ontlok word.

Beide PEPUDA en sy voorgestelde wysiging is grondwetlik aanvegbaar. Ingevolge die wysiging kan deelnemers aan feitelik enige sinvolle sosiale interaksie die risiko loop om skuldig bevind te word aan misdrywe wat verband hou met onbillike diskriminasie. Dit sou moontlik wees weens die selektiewe konseptualisering van diskriminasie in die wetsontwerp.

Die mees kommerwekkende aspek van die wetsontwerp is dat dit voorsiening maak vir selektiewe, arbitrêre toepassing van diskrimiasiekriteria. Aangesien feitelik enigiemand  onder ‘n wye reeks omstandighede aan onbedoelde onbillike diskriminasie skuldig bevind kan word, kan instellings teen diskriminasie soos die Menseregtekommissie die wetsontwerp selektief as gereedskap inspan om bepaalde rolspelers in openbare diskoers te teiken.

Om byvoorbeeld te spot met plat-Aarders kan ingevolge die wetsontwerp gekonseptualiseer word as die ondermyning van hul waardigheid en vooroordeel op grond van oortuiging — ‘n geval van “onbedoelde” onbillike diskriminasie. Dit druis in teen die realiteit dat mense en ondernemings noodwendig gereeld moet diskrimineer om bepaalde voorkeure te kan uitoefen.

Die woord “diskriminasie” het sy oorsprong in die Latynse discriminare — ‘n werkwoord wat beteken “om te onderskei tussen”. In ‘n sosiale konteks word die term egter in ‘n kwaadaardige lig geassosieer met vooroordeel in die manier waarop mense behandel word.

Die negatiewe konnotasie wat met diskriminasie gepaard gaan, het wél ‘n gefundeerde grondslag. Dit is wel so dat sekere soorte diskriminasie skadelik is, veral waar die staat diskrimineer. ‘n Voorvereiste vir die oppergesag van die reg is dat mense op gelyke grondslag deur die staat behandel moet word.

Die staat het sy geloofwaardigheid te danke aan ‘n sosiale kontrak met die hele samelewing. Waar die staat as’t ware hierdie kontrak skend in verband met sommige mense, hoef daardie mense nie aan die voorskrifte van die staat gehoor te gee nie. Die moderne staat is so saamgestel dat wanneer dit teen mense diskrimineer, dit byna altyd ernstige kommer oor geregtigheid en legitimiteit sal ontlok. Historiese voorbeelde van sodanige diskriminasie is slawerny, segregasie, die ontkenning van vrouens se stemreg, en apartheid.

Die PEPUDA-wysigingswetsontwerp moet oorweeg word in die lig van hierdie skema van menslike werklikheid en staatslegitimiteit. In die konteks van private, kommersiële, sosiale en ander aangeleenthede diskrimineer mense. Dit is nie net ‘n werklikheid nie, maar ‘n belangrike aspek van vryheid. Mense wat verbied word om vir watter rede ook al voorkeure ten opsigte van assososiasies ten toon te stel, se vryheid word ontsê. 

Wat die staat betref is dit ietwat anders, soos bo verduidelik. Dit is daarom vreemd dat die wysigingswetsontwerp diskriminasie in die loop van private interaksies verbied, maar terselfdertyd swyg oor diskriminasie deur die Staat.

Artikel 9 van die Grondwet, sowel as PEPUDA, erken reeds die bestaan van indirekte onbillike diskriminasie, en beskerm persone daarteen. Waarom sou die wysigingswetsontwerp verdere bepalings wil aanhaak oor onbedoelde diskriminasie? Dit is onbehoorlik dat die wysigingswetsontwerp onopsetlike vooroordeel [wat] die waardigheid van iemand anders ondermyn, strafbaar stel.

Die wysigingswetsontwerp sal ministers ook in staat stel om regulasies en “praktykskodes” voor te skryf vir alle vorme van burgerlike samelewings, insluitend nie-regeringsorganisasies en private ondernemings. Hierdie regulasies en kodes sal hierdie entiteite dwing om “gelykheid te bevorder”. Die wetsontwerp omskryf gelykheid egter in  ideologiese taal. Byvoorbeeld, die definisie van gelykheid behels nou ook “gelyke toegang tot hulpbronne, geleenthede en voordele”.

Dit is moontlik dat diegene wat bloot nie met die regering se huidige beleid van herverdeling saamstem nie, ingevolge die wetsontwerp in die gevaar staan om die bevordering van gelykheid te ondermyn. Dit laat die vraag ontstaan oor of blote beleidsverskille nou kragtens die wet strafbaar sal wees.

Die PEPUDA-wysigingswetsontwerp is teenstrydig met menige grondwetlike standaarde, insluitend die reg op gelykheid, vryheid van uitdrukking en assosiasie. Soos die wetsontwerp oor haatspraak, stel hierdie voorgestele wetgewing ‘n diepgaande bedreiging vir demokrasie en vryheid in Suid-Afrika daar, en moet aangeveg word.

Martin van Staden is ‘n Regsgenoot by die onafhanklike sakegemeenskap Sakeliga en LLD-student aan die Universiteit van Pretoria. Vir meer inligting besoek www.martinvanstaden.com.

Archives