Nuwe BEE-kode skaad regsprofessie se onafhanklikheid en werking

pexels-sora-shimazaki-5669619

Die konsep BEE-kode vir die regsbedryf stel ‘n bedreiging vir die onafhanklikheid en werking van die regsprofessie daar. Die kode skaad nie net die privaat belange van praktisyns, firmas en kliënte nie, maar ook die openbare belang, gegewe die regsprofessie se funderende rol in ‘n konstitusionele orde. 

Hierdie submissies vorm deel van die sakeorganisasie Sakeliga se kommentaar vandeesweek op die konsep Regsektorkode. Die Regsektorkode, nou in sy tweede openbare weergawe, het ten doel om die regsprofessie onder sektorspesifieke B-BEEE kodes in te bring. 

“Regulasie van die regsindustrie behoort die doel van gehalteversekering van regsdienste en die handhawing van onafhanklikheid van die regsektor te dien. In stede hiervan maak die Regsektorkode by wyse van wetgewing die industrie onderhewig aan partypolitieke beleid (in besonder, rassetransformasie)Vir hierdie oorwegings om egter op ‘n behoorlike en geldige wyse nagestreef te word moet dit kwessies van openbare voorspraak en bedinging binne die industrie wees. Die kode doen daarom afbreuk aan die behoorlike funksionering van die regsprofessie en sy instellings en is daarom onaanvaarbaar,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. 

Konstitusionele belang 

In sy kommentaar verwys Sakeliga ook na die buitengewone rol van die regsprofessie in die handhawing van ‘n konstitusionele orde. 

“Ons wys daarop dat ‘n geldige konstitusionele orde ‘n effektiewe skeiding van magte vereis, waarvoor ‘n regsprofessie onafhanklik van partypolitieke programme onontbeerlik is. Die regsprofessie dien wat ‘n metakonstitusionele rol genoem kan word, naamlik intermediasie tussen die magsentrums van ‘n staat, tussen regsubjekte en tussen die staat en regsubjekte. Die werking van hierdie konstitusionele meganisme vereis vrye keuse van regsverteenwoordiging en die vrye beoefening daarvan vir kliënte,” sê Le Roux. 

Nuwe tendens 

Le Roux sê die Regsektorkode is ook veelseggend met betrekking tot nuwe tendense in BEE-regulasies. In vroeëre fases was BEE hoofsaaklik gerig op die verkrygingsverhouding tussen die staat en sy verskaffers van goedere en dienste. Deesdae, in kodes soos die Regsektorkodeis BEE glad nie meer tot die verhouding tussen staat en transaksionele party gebonde nie. Toenemend word die benadering om BEE-vereistes te stel ongeag staatsbetrokkenheid, wat ernstige implikasies inhou vir die Vryheid om te handel en die Vryheid om professionele dienste te bekom,” sê Le Roux. 

Le Roux wys daarop dat die voorgestelde Wet op Eiendomspraktisyns en die Wet op die Werking van Finansiële Instellings wetgewende verwikkelinge is met soortgelyke BEE-toepassing. 

Verdere sake en volledige kommentaar 

Die Regsektorkode is ook betekenisvol vir sy omvangryke pro bono-voorskrifte. Indien in werking gestel, sal dit regsdienste nie meer toeganklik maak nie, maar eerder duurder en minder toeganklik, en Kleiner firmas disproporsioneel belas. 

Vir Sakeliga se volledige kommentaar, klik hier.

Archives