Nuutste oor Tenderregulasies in Suid-Afrika

pexels-sora-shimazaki-5668858

16 Februarie 2022: Sakeliga wen in die Grondwethof; rasgebaseerde verkrygingsdiskwalifisering onwettig

Sakeliga het in Februarie 2022, ná ‘n hofstryd van vyf jaar, die eerste omvattende terugrol van BEE deur litigasie in die grondwethof behaal. Die hof het bevind dat die minister sy magte oorskry het deur omstrede rasgebaseerde verkrygingsregulasies (PPPFA-regulasies) uit te vaardig. Die verkrygingsregulasies is deur die uitspraak onwettig en ongeldig verklaar.

28 Februarie 2022: Direkteur-Generaal probeer Grondwethof-uitspraak systap

Klaarblyklik ontevrede met die uitspraak het die Direkteur-Generaal (DG) kort na die Grondwethofuitspraak oor tenderregulasies onwettige instruksies uitgevaardig wat potensieel onwettige optrede deur staatsorgane kan veroorsaak

In sy omsendskrywe van 25 Februarie het die DG in effek aan staatsorgane instruksie gegee dat

  • geen nuwe tenders geadverteer moet word nie,
  • tenders wat sedert die uitspraak geadverteer is teruggehou word, en
  • tenders wat geadverteer is vóór die uitspraak kragtens die onwettige 2017-regulasies voortgesit kan word.

Die DG het verder gemeld dat die Nasionale Tesourie die Grondwethof vir ‘n bevel wil nader om die regulasies wat ultra vires verklaar is vir ‘n tydperk te laat herleef. Sakeliga is gereed om die Grondwethofuitspraak wat BEE-vereistes verbied, af te dwing.

Jy kan dit ondersteun deur lid te word van Sakeliga

4 Maart 2022: Direkteur-Generaal op die agtervoet; erken voortgesette BEE-voorvereistes en tendervertragings nie bindend

Die Direkteur-Generaal van die Nasionale Tesourie, Dondo Mogajane, het aan Sakeliga toegegee dat sy omsendbrief aan staatsorgane oor voortgesette BEE-voorvereistes en die stop van tenders nie bindend is nie.  

Dit kom nadat ‘n landswye krisis gedreig het waarin feitlik alle staatstenderprosesse tot stilstand sou knars, op grond van ‘n omsendskrywe van Mogajane op 25 Februarie. Staatsorgane het Mogajane se skrywe interpreteer as ‘n instruksie om nie nuwe tenders te adverteer nie asook asof hulle sou mog voortgaan om vir reeds-geadverteerde tenders BEE-voorvereistes toe te pas.

Sakeliga het gewaarsku dat die Nasionale Tesourie ‘n skyn van wettigheid oor voortgesette toepassing van BEE-gebaseerde voorafdiskwalifikasie van tenderaars skep. Dit, terwyl die Grondwethof finaal die ongeldigheid van die BEE-gebaseerde voorafdiskwalifikasie in die Minister van Finansies se 2017-regulasies bevestig het. Sakeliga staan gereed om weer te litigeer sou daar pogings deur die Nasionale Tesourie of ander staatsinstellings wees om die hofuitspraak te systap. 

Sakeliga-lidmaatskap sal ons help weerstand teen hofuitsprake teen te staan.

13 Maart 2022: Nuwe PPPFA-regulasies (sónder BEE-voorvereistes) gepubliseer vir openbare deelname

Vir die eerste keer sedert 2017 is BEE-voorvereistes afwesig uit die minister van finansies se voorgestelde regulasies vir staatstenders. Die nuwe tenderregulasies wys die impak van Sakeliga se Grondwethofoorwinning wat BEE as voorvereiste by staatstenders onwettig en ongeldig verklaar het. Sou die nuwe regulasies gepromulgeer word, herstel dit BEE in staatstenders ten minste tot die status quo voor 2017, toe BEE-kriteria maksimaal 20% aandeel in die evaluasie van tenders getel het.

Die onwettige poging om BEE-voorvereistes deel van openbare verkryging te maak het die afgelope vyf jaar miljarde rande se skade vir die publiek en sakelui veroorsaak. Die publiek moes gediend wees met dienslewering wat beperk was tot dit wat kom uit ‘n klein, polities-gekonnekteerde poel van tenderaars, eerder as die volle spektrum van diensverskaffers in die mark. Sakelui moes skielik hul aandeelhouding verwater indien hulle staatstenders wou hê, of kon glad nie meer staatstenders bekom nie.

Alhoewel Sakeliga die Grondwethof-uitspraak téén die 2017-regulasies as baie belangrik beskou, is dit nog nie die einde van BEE nie. Dit is te verwagte dat diegene wat ten gunste van BEE is of voordeel daaruit trek alternatiewe maniere in wetgewing en regulasies sal soek om BEE te handhaaf en uit te brei. Sakeliga raai sakelui daarom aan om hul blootstelling aan BEE-vereistes so laag as moontlik te hou, en bedag te bly op die impak van BEE en moontlike nuwe regulasies en wette.

Sakeliga verwelkom finansiële of ander ondersteuning vir sy langtermynverbintenis om ‘n gunstige sakeomgewing sonder BEE te herstel.

Archives