‘n Nuwe wetsontwerp op billike indiensneming sou grootskaalse hervestigings regoor Suid-Afrika noodsaak.

pexels-sora-shimazaki-5668858

Konseptueel en tegnies onversoenbaar met die Regstaat

Op Dinsdag, 13 April 2021, het Sakeliga mondelinge voorleggings gedoen aan die Portefeuljekomitee vir Indiensneming en Arbeid oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp op billike indiensneming. Die wetsontwerp bemagtig die Minister van Arbeid om rassedemografiese teikens vir indiensneming aan individuele ondernemings voor te skryf wat op elke werksplek en op elke beroepsvlak geïmplimenteer moet word, onder dreigement van boetes en weerhouding van nakomingsertifikate.

Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, het drie onderliggende probleme met die wetsontwerp uitgelig, naamlik die tydsberekening van die bekendstelling daarvan; die implikasies van die visie daarvan; en dat rasseklassifikasie iets is waarvan Suid-Afrika moet wegbeweeg en nie moet benadruk nie.

Le Roux voer aan dat die sukses van die wetsontwerp ‘n mislukking vir die samelewing as ‘n plek vir menslike vooruitgang beteken. “Die wetsontwerp beoog ‘n toekoms waar elke organisasie, op elke werksplek, op elke beroepsvlak en in al sy spanne, die rassedemografie van die land, die provinsie of die sektor weerspieël, wat die minister ook al kies. Enige afwyking van hierdie standaard word deur die wetsontwerp as ‘n oortreding beskou en is onderhewig aan regstelling deur die staat deur middel van die oplegging van boetes of erger.”

“Die probleem met hierdie visie is dat dit slegs bereik kan word deur werksgeleenthede vir sommige mense in die gebiede waar hulle “oorverteenwoordig” is, te beperk en hulle op enige direkte of indirekte wyse te vereis om werk in ander dele van die land te soek waar daardie rassekategorie “onderverteenwoordig” is. Dit sou ‘n nuwe soort migrerende arbeidstelsel uitmaak, met ‘n nadelige uitwerking op die stabiliteit en lewenskragtigheid van konkrete gemeenskappe in alle rassegroepe waaruit lede sou moes emigreer om aan die visie van die wetsontwerp te voldoen. Ons praat oor miljoene mense uit alle rassegroepe wat moet verhuis as die wetsontwerp ooit dit bereik waarna dit streef. Gelukkig realiseer sulke omvattende visies nie maklik nie, maar dit doen nie afbreuk aan die onderliggende skade van die wetsontwerp vir sover dit geïmplimenteer is nie.”

Le Roux het bygevoeg dat die wetsontwerp ook nie die werklikheid aanspreek dat die vaardigheidspoel waaruit werkgewers kan put nie die rassedemografie van die land weerspieël nie. “Die manier om dit op te los, is nie om die verskeidenheid te ignoreer nie, maar om te verbind tot die volgehoue opvoedings- en opleidingspogings waardeur hierdie  verskeidenheid oor tyd inkrementeel kan en sal verander of reeds verander het.

Wat tydsberekening betref, het Le Roux opgemerk dat dit met die swak ekonomiese groei in Suid-Afrika in die konteks van die Covid-19 grendelstaat nou die slegste tyd is om meer rompslomp in die ekonomie in te stel.

Ter afsluiting voer Le Roux aan dat rassekwotas ongrondwetlik is en onversoenbaar is met die grondliggende waarde van nie-rassigheid in die Grondwet en ook onversoenbaar is met grondwetlike intensies. “Die Grondwet verwys slegs na breë demografiese verteenwoordiging (wat nie dieselfde is as eng rasseverteenwoordiging nie)  ten opsigte van die openbare sektor”, het Le Roux gesê, “maar verwys nie na die private sektor nie.”

Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, het drie tegniese probleme met die wetsontwerp uitgelig, naamlik dat dit die Minister van Arbeid in staat stel om self reëls te maak; dat ‘n onaanvaarbare wye ministeriële diskresie verleen word, en dat daar óf geen impakstudie op die wetsontwerp gedoen is nie, óf dat een gedoen is en nie gepubliseer is nie.

Die wetsontwerp bemagtig die Minister om die kriteria voor te skryf waaraan die Minister moet voldoen wanneer hy ekonomiese sektore identifiseer waarvoor rasverteenwoordigende teiken gestel word. “Ons kan nie dat mense die reëls moet opstel wat hulle self moet nakom nie”, het Van Staden opgemerk. “Die Parlement moet die kriteria in die wetgewing opstel.”

Oor ‘n verbanhoudende kwessie verleen die wetsontwerp ‘n wye diskresie aan die Minister om te besluit of ‘n onderneming ‘n sertifikaat van die nakoming van hierdie teikens sal verleen. Van Staden het aangevoer dat “die Minister se tevredenheid ‘n onvoldoende regskontrole op ‘n diskresionêre mag is”, en dat hierdie “ongekwalifiseerde diskresie” onversoenbaar sou wees met die oppergesag van die wet, wat vereis dat die Parlement die wet moet maak waaraan Suid-Afrikaners moet voldoen, nie ministers nie.

Van Staden het afgesluit deur te wys op die afwesigheid van ‘n sosio-ekonomiese impakstudie op die wetsontwerp. Dit oortree ‘n 2015-regeringsbeleid dat alle nuwe beleide, regulasies en wetgewing wat deur regeringsdepartemente voorgestel word, gepaard gaan met so ‘n beoordeling.

Van Staden het gesê:

“Sonder dat ‘n impakstudie gepubliseer is, beskou ons die wetgewende proses as onvolledig en buite werking. Ons vra dat ‘n impakstudie gedoen en gepuliseer moet word en dat die deelname van die publiek weer opnuut moet begin.”

Sonder dat die Parlement vertroud is met die waarskynlike gevolge van die wetsontwerp, kan dit die groei- en indiensnemingsvooruitsigte van Suid-Afrika ondermyn.

Beide Le Roux en Van Staden se opmerkings was gebaseer op en het bygedra tot Sakeliga se skriftelike voorlegging oor die wetsontwerp, wat hier gelees kan word.

Archives