KYK: Sakeliga se onluikende strategie om elektrisiteitkrisis hok te slaan

eskom-laat-suid-afrika-in-die-steek-afrisake-sal-ingryp

In die volgende Sakeliga-gesprek praat Russell Lamberti (Sakeliga se hoof van navorsing en strategie) en Gerhard van Onselen (Sakeliga-strateeg) oor die huidige uitdagings met Eskom en beurtkrag.

Die gesprek kyk dieper na Sakeliga se ontwikkelende strategie om die Eskom-krisis hok te slaan. Per slot van sake gaan energie-onafhanklikheid nie bloot oorhandig word nie, dit moet teruggeneem word.

Die gesprek kom tot die volgende gevolgtrekkings:

  • Voldoende energie rugsteun ’n moderne samelewing. Die staat hou egter aan om energie-oplossings met burokrasie en rompslomp te onderdruk.
  • Die verslappings van regulasies wat tot dusver aangekondig is, is onvoldoende. Groter energie-liberalisering en privatisering is nodig.
  • Sonder energie kan niemand ’n volhoubare bestaan in die moderne wêreld maak nie. Dit is uiteindelik immoreel van die regering om burgers gedurig met energie-onsekerheid te belas.
  • Die ontwrigting van beurtkrag is nie net ongerieflik nie, maar energie-onsekerheid raak aan die lewensnoodsaaklike belange van gemeenskappe.
  • Die suksesvolle hervorming van Eskom is daarby twyfelagtig gegewe die sistemiese aard van die kragprobleem, teenstand van onderduimse belange, en ander werklikhede (soos Eskom se regulatoriese monopolie) wat deur die huidige regsraamwerk in plek gehou word.
  • Sakeliga besef dat die publiek en die private sektor moet oorgaan tot aksie om meer gekoördineerd op gemeenskaps-,plaaslike, en provinsiale vlak planne en oplossings vir energie-onafhanklikheid in werking te stel.
  • Oplossings moet nóú gevind word ongeag die doen en late van ’n toondoof regering.

Sakeliga is tans besig om sy strategie rondom energie te verfyn. Hierdie energie-strategie sal hoofsaaklik op drie kernbeginsels berus:

  1. Steunwerwing en kommunikering van die morele argumente vir ’n onbelemmerde energiemark waar genoegsame energie sonder verstikkende regulasies en rompslomp opgewek kan word.
  2. Sakeliga sal ondersoeke onderneem na alle roetes wat beskikbaar is ten opsigte van die Grondwet en regspraak om skuiwergate en ander moontlikhede vir energie-onafhanklikheid te identifiseer. Die voortdurende grootskaalse sentralisering van energie sal teengestaan word.  
  3. Sakeliga sal moontlikhede ondersoek vir ’n ordelike en vreedsame veldtog van burgerlike verset teen energie- en ander regulasies waar lewensnoodsaaklike energie-onafhanklikheid bedreig word.
Archives